Chuene se kop gaan dalk rol
2009-09-21 19:27
Johannesburg - Suid-Afrikaanse atletiekbeamptes sal vandeesweek die lot van Atletiek Suid-Afrika se president Leonard Chuene besluit nadat hy oor sy rol in die Caster Semenya-saga gejok en dit erken het.
Attlee Maponyane, adjunkpresident van ASA, het gesê ASA se raad sal Donderdag vergader.
Dié raad bestaan uit Chuene en leiers van die verskeie sportkomitees en provinsiale liggame.
Politici vra dat Chuene afgedank moet word, maar Maponyane en ander beamptes van ASA het Maandag geweier om te sê wat hulle aan die raad gaan voorstel.
Chuene weier om enigsins kommentaar te lewer.
Sy vierjaartermyn verstryk aan die einde van 2012.
Hy het volgehou dat geslagstoetse op Semenya oorsee gedoen is, en nie in Suid-Afrika nie.
Chuene het egter oor die naweek erken dat hy geweet het van toetse wat in Suid-Afrika op die ster-atleet gedoen is.
Hy het gesê hy het gejok om Semenya se privaatheid te beskerm, maar weier om te bedank.
Die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) sal in November bekendmaak of Semenya nog as vrou kan deelneem.
Die IAAF is in Suid-Afrika en oorsee oor die kole gehaal omdat hy die toetse in die openbaar bekendgemaak het.
Dít het veroorsaak dat 'n internasionale mediastorm om die 18-jarige Semenya se kop losbars.
Chuene het 'n veldtog in Suid-Afrika begin om al die skuld op die IAAF te pak.
Maponyane het gesê hoewel ASA oor Chuene se toekoms moet besluit, moet die IAAF steeds verduidelik waarom 'n vertroulike saak uitgelap is.
– Sapa-AP