Chuene het Saskok bankrot gelaat
2011-02-17 13:29
Johannesburg - Suid-Afrika se Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) het Donderdag gesê die geskorste atletiekbaas, Leonard Chuene, het dié organisasie tot bankrotskap gedryf.
Chuene gaan in die hof baklei om sy pos te behou nadat hy en twee raadslede van Atletiek Suid-Afrika (ASA) Maandag deur 'n dissiplinêre komitee skuldig bevind is op verskeie aanklagte van onder meer geldelike vergrype en wanbestuur.
Saskok het Chuene ook skuldig bevind dat hy Caster Semenya se menswaardigheid tydens die geslagsdebakel aangetas het.
Hy en sy twee kollegas het gesê hulle sal nie teen die bevinding appelleer nie, aangesien hulle die wettigheid van die dissiplinêre komitee nie erken nie.
"Ons sal eers vir Saskok en ASA wag om 'n besluit te neem rakende die volgende stappe wat geneem gaan word. Sodra dit gebeur sal ons met ons appél begin," het die drie se regsverteenwoordiger, Mncedisi Ndlovu, gesê.
Hou Nuus24 dop vir verdere verwikkelinge rondom die Chuene-saak.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.