Chuene: 'My lewe is in gevaar'
2011-05-12 12:28
Johannesburg - Suid-Afrika se geskorste atletiekbaas, Leonard Chuene, sê hy vrees vir sy lewe na 'n rits vreemde voorvalle plaasgevind het en sy eiendom beskadig is, het die Sowetan Donderdag berig.
Chuene, wat deesdae 'n lae profiel handhaaf sedert hy deur Atletiek Suid-Afrika (ASA) geskors is, het 'n saak van intimidasie en kwaadwillige beskadiging van eiendom by die polisie in Johannesburg aanhangig gemaak.
Die ondersoekbeampte Lovemore Sithole het Woensdag bevestig dat Chuene 'n saak by die Mondeor polisiestasie gemaak het.
"Daar het 'n paar vreemde dinge gebeur sedert my skorsing. Ek sien altyd motors met mense wat snaaks lyk en my agtervolg," het Chuene by navraag gesê.
"Eers het iemand my motor se bande afgeblaas. Later is my kleinkinders se fietse gesteel. Tot ons skok is die fietse 'n week later oorkant ons huis teruggevind."
"Ek is glad nie meer by atletiek betrokke nie en weet nie hoekom mense op my spoor is nie," het die geskorste atletiekbaas aangevoer.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24