Chinese atleet geskors na vuisslanery
2011-08-05 12:22
Kaapstad – Een van China se mees gevierde Olimpiese atlete is Vrydag uit die nasionale span geskors nadat sy in 'n besope toestand 'n amptenaar met die vuis bygedam het.
Die ysskaatser Wang Meng het glo Donderdagaand uitgegaan om te kuier waarna sy die span se aandklokreël verontagsaam het.
Toe Wang se spanbestuurder, Wang Chunlu, haar daaroor konfronteer het die atleet haar met die vuis geslaan.
Die 26-jarige is uit die nasionale span geskop en mag aan geen internasionale kompetisies deelneem nie omdat haar gedrag "die sport se beeld geskaad het," het China se sportbeheerliggaam gesê.
Wang het verlede jaar drie goue medaljes by die Winterspele in Kanada, en goud, silwer en brons in 2006 by die Spele in Italië gewen.
Volgens die staatsbeheerde Xinhua-nuusagentskap is Wang bekend vir haar vinnige humeur.
In 2007 is sy vir ses maande geskors nadat sy haar afrigter se taktiek by die Asiese Spele gekritiseer het.
In Junie vanjaar was Wang en haar spanmaats in 'n onderonsie met sekuriteitswagte betrokke nadat beweer is dat hulle te veel geraas gemaak het tydens 'n aand uit.
Lees verder.
– Guardian.co.uk