Charl Schwartzel wen Joburg-ope
2011-01-17 07:44
Johannesburg - Nie eens die ineenstorting van sy dryfwerk kon Charl Schwartzel Sondag daarvan weerhou om sy Joburg-ope-titel suksesvol te verdedig nie.
Op die Royal Johannesburg & Kensington-gholfbaan het ’n bekende toneeltjie hom afgespeel toe Schwartzel die trofee die tweede keer in soveel jaar gelig het. Hy het die res van die deelnemers se moed op die mees kritieke stadiums van die laaste ronde gebreek.
Die Vaaldriehoeker het ’n 67 aangeteken vir sy 265.
Dit is vier houe voor Garth Mulroy en vyf voor Thomas Aiken. Dit was die tweede keer dat Mulroy tweede in dié toernooi eindig en vir Aiken was dit die derde keer in 12 maande dat hy in die top-3 in ’n Europese toernooi geëindig het.
Schwartzel was pure klas oor die eerste nege putjies van sy laaste rondte, wat in aanhoudende reën plaasgevind het, en het ’n voorsprong van twee houe opgebou met drie voëltjies oor die eerste agt putjies.
Ná ’n brouhou op die negende, waar sy naderhou oor die setperk getrek het, het hy egter sy ritme van die bof af verloor en telkens in die moeilikheid beland.
Hy moes diep delf, en dit was merkwaardig om te aanskou hoe hy op die 10de, 11de en 12de putjies elke keer syfer kon red met uitstekende setwerk.
Hy kon Mulroy en Aiken weliswaar nie afskud nie, maar het hul skouers eindelik laat hang toe hy op die 13de uit ’n sandkuil agter die setperk ingekap het vir ’n voëltjie.
Op die 18de kon selfs ’n bofhou wat agter ’n boom regs van die skoonveld beland het Schwartzel nie van stryk bring nie. Hy het genoeg herstel om sy derde hou so byna te sink vir ’n arend.
“Ek het aan die begin van die week gesê my swaaiprobleme is nie noodwendig ’n ramp nie omdat ek steeds my selfvertroue en ’n positiewe denkwyse het, en dit was eindelik die verskil,” het Schwartzel gesê.
“Die bofhoue het dalk nie gegaan waar ek wou hê nie, maar ek het myself heeltyd daaraan herinner dat my kortspel goed is en ek enigiets kan doen.”
Schwartzel het gesê Mulroy en Aiken het hom oor die laaste fase onder druk geplaas met goeie bofhoue en uitstekende spelpeil, maar dat hy deurgaans kalm gebly het.
Met dié oorwinning het Schwartzel die derde Suid-Afrikaner geword wat ’n Europese titel suksesvol verdedig het.
Ernie Els (Heineken-ope) en Trevor Immelman (SA Ope) het dit ook al vermag.
Die oorwinning het aan hom sy sesde kroon in die Europese Reeks besorg.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24