Chaos in Tour se harde 9de skof
2011-07-11 09:41
Pretoria – Op ’n dag vol drama waar meer as een jaer bene gebreek het, was dit Luis Leon Sanchez (Rabobank) wat Sondag kopgehou het om die Tour de France se negende skof te wen.
Dié Spanjaard het die skof van Issoire na St Flour (208km) in 5:27:09 gewen.
Thomas Voeckler (Europcar), wat vyf sekondes later tweede oor die eindstreep gejaag het, is die nuwe algehele voorloper.
Sanchez is algeheel tweede, 1:49 agter. Cadel Evans (BMC) is derde, 2:26 agter.
Die bestuurder van ’n media-motor het chaos veroorsaak toe hy vir ’n boom langs die pad uitgeswaai en voor die vyf jaers wat feitlik die hele dag voor was, ingejaag het.
Die motor het Juan-Antonio Flecha (Sky) skrams getref.
Oomblikke later het hy teer geproe.
Johnny Hoogerland (Vacansolei-DCM) was die ander slagoffer.
Hy het Flecha se fiets getref en beheer verloor.
Op televisie is gesien hoe hy skouspelagtig gat oor kop deur die lug trek en met sy rug op ’n doringdraad land.
Hy is weer in die lug opgeskiet en het in landerye geland.
Hoogerland was die voorloper in die bobaas van die berge-afdeling toe die ongeluk plaasgevind het.
Albei jaers het die skof voltooi, maar of hulle die toer kan voltooi, is ’n ope vraag.
Dit is die tweede keer dat ’n jaer in die Tour deur ’n media-voertuig raakgery word.
Nicki Sorensen (Saxo Bank) is in die vyfde skof deur ’n motorfiets gehaak en gesleep.
Die ander groot drama het gebeur toe Alexandre Vinokourov (Astana) beheer oor sy fiets verloor, van die teerpad gejaag en oor ’n afgrond tussen die bome verdwyn het.
Dié jaer van Kazakstan (11de algeheel – 32 sekondes agter) het sy heupbeen gebreek.
Jurgen van den Broeck (Omega Pharma-Lotto), Frederik Willems van dieselfde span en David Zabriskie (Garmin-Cervelo) het terselfdertyd ook neergeslaan.
Van den Broek (12de algeheel – 39 sekondes agter) het sy skouer gebreek, Willems sy sleutelbeen en Zabriskie sy gewrig.
Vandag is ’n rusdag.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24