Cavendish in wolke ná sege
2011-07-09 08:14
Kaapstad – Mark Cavendish (HTC-Highroad) en sy spanmaats het in Vrydag se sewende skof van die Tour de France gewys waaroor die beginsel van een vir almal en almal vir een gaan.
En vir hul moeite is hulle met ’n skofsege beloon.
Cavendish het presies op die regte oomblik versnel om dié fietsryskof van Le Mans na Chateauroux (218 km) in 5 uur 38 minute en 53 sekondes te wen. Alessandro Petacchi (Lampre-ISD) was tweede en André Greipel (Omega Pharma) derde.
Oor die laaste 30 km was die jaers van HTC-Highroad heeltemal in beheer van sake.
Eers het hulle Cavendish gehelp om die bondelnaelrit in die tussentydse snelpremie te wen; en daarna, oor die laaste 5 km, het hulle die pas so warm gemaak dat al die ander spanne se naelryers gesukkel het om by te hou.
Die HTC-Highroad-trein was beslis een van die mees perfekte “treine” tot nog toe in dié Tour. Geen wonder dat Cavendish in ’n televisie-onderhoud bly sê het hoe trots hy op sy spanmaats is nie.
Die woord ongelooflik het ’n hele paar keer oor sy tong gerol wanneer hy na hulle verwys het. Wat die sege nog meer spesiaal vir Cavendish gemaak het, is dat hy in 2008 in presies dieselfde dorp sy eerste skofsege in die Tour behaal het. “Dit is hoekom dié skofsege meer as spesiaal vir my is. As ek net een skof in die Tour kon wen, moes dit dié een wees.”
Cavendish spog nou met 17 skofseges.
Die hartseer-nuus van die dag was dat Bradley Wiggins (Sky) se Tour verby is nadat hy sowat 40 km van die einde af hard neergeploeg het.
Wiggins het minute ná dié val steeds verdwaas langs die pad rondgestaan en sy linkerarm styf vasgehou. Eindelik is besluit dat dit dwaas sou wees om te probeer om hom verder te laat saamjaag.
’n Mismoedige Wiggins het toe in die ambulans geklim. Hy het vermoedelik sy sleutelbeen gebreek. Wiggins, ’n Olimpiese medaljewenner in baanfietsry, het twee jaar gelede vierde in die Tour geëindig.
Cavendish, wat saam met Wiggins al die Madison-wêreldtitel op die baan gewen het, was erg teleurgesteld toe hy van dié terugslag vertel is.
“Dit is regtig jammer dat dit met Bradley moes gebeur. Hy was lanklaas so goed voorbereid.
“Ek dink hy het regtig ’n kans gehad om die Tour te wen.”
Thor Hushovd (Garmin-Cervelo) is steeds die algehele voorloper. Hy is ’n sekonde voor Cadel Evans (BMC) en 4 sekondes voor Frank Schleck (Leopard-Trek).
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24