Cavendish dra groen
2011-07-14 09:09
Pretoria. – Mark Cavendish (HTC-Highroad) het in Woensdag se 11de skof van die Tour de France gewys hy laat hom nie twee keer uitvang nie toe hy André Greipel (Omega Pharma-Lotto) in die naelrit eindstreep toe geklop het.
Eergister het Greipel eerste oor die eindstreep gejaag, met Cavendish in die tweede plek.
Cavendish se wentyd vir die skof van Blaye les Mines na Lavaur (167.5 km) was 3 uur 46 minute en 7 sekondes. Tyler Farrar (Garmin-Cervelo) was derde.
Die Brit is vinnig besig om een van die Tour se voorste skofwenners te word. Hy spog tot dusver met drie skofseges in vanjaar se Tour en met 18 altesaam.
Cavendish beklee nou die agtste plek op die Tour se lys van voorste skofwenners. Hy het eindelik met sy haastige jaagwerk ook seker gemaak hy is die nuwe draer van die groentrui (punte-afdeling).
In ’n televisie-onderhoud het Cavendish gesê hy was dit aan sy spanmaats verskuldig om te wen.
“Dinsdag, toe Greipel my geklop het, het dit seergemaak. Ek het wonderlike spanmaats wat hul beste lewer om te verseker ek is in ’n gunstige posisie om skofte te wen.
“As ek nie wen nie, laat ek nie net myself in die steek nie, maar ook al my spanmaats.
“Daarom was dit belangrik om die keer geen foute te begaan nie.
“Toe ek met my eindpoging begin, het ek besef dit is nou of nooit, daarom het ek glad nie teruggehou toe ek begin versnel het nie.
“My versnelling oor die laaste paar honderd meter is nog altyd my sterkpunt.”
Thomas Voeckler (Europcar) is steeds die algehele voorloper, maar dit is ’n ope vraag of hy Donderdagmiddag nog die geeltrui sal dra, want dit is die eerste skof in die Pireneë-gebergtes.
Die verwagting is dat die stryd om die geeltrui in alle erns sal begin.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24