Caster wen in Parys
2011-07-09 11:58
Pretoria – Caster Semenya het Vrydagaand in Parys op die Diamantliga-byeenkoms haar eerste internasionale 800 m-wedloop vanjaar gewen.
Haar wentyd van 2:00.18 is niks om oor opgewonde te raak nie. Wat wel opwindend was, was Semenya se eindpoging. Ná die eerste rondte was sy in die sewende plek, maar toe het sy met die grootste gemak al haar teenstanders ingehaal en verbygesteek.
Sunette Viljoen het gewys sy is ook stadig maar seker besig om haar beste peil te bereik toe sy haar spies 61.74 m ver deur die lug laat trek het.
Hoewel dit haar beste gooi tot dusver vanjaar is, was dit net goed genoeg vir die sesde plek.
Christina Obergföll van Duitsland het met ’n gooi van 68.01 m gewen. Barbora Spotákova (Tsjeggiese Republiek) se gooi van 67.57 m was die tweede beste van die aand. Mariya Abakumo (Rusland) was derde met ’n gooi 65.12 m.
Oscar Pistorius het ook nog nie vir vanjaar se Wêreldbyeenkoms gekwalifiseer nie.
Hy was vyfde in die 400 m- wedloop in ’n tyd van 45.84 sekondes. Christopher Brown van die Bahamas het gewen in ’n tyd van 44.94.
- Robert Oosthuizen, Suid-Afrika se voorste spiesgooier, is die enigste Suid-Afrikaanse atleet wat Sondag aan die Diamantliga-byeenkoms in Birmingham, Engeland deelneem.
- LJ van Zyl beplan om op 22 Julie in Monaco weer op ’n Diamantliga-byeenkoms in die 400-hekkies in aksie te wees.
Die kans is ook goed dat hy op 6 Augustus in Londen in aksie sal wees.
Volgens Van Zyl het hy amper geen las meer van sy beseerde dyspier nie wat hom verhoed het om Vrydagaand in Parys aan die 400 m deel te neem.
“My besering was dalk ’n bedekte seën, want dit het my kans gegee om ’n slag weer goed te oefen en iets terug in die ‘bank’ te sit voor die Wêreldbyeenkoms in Daegu, Suid-Korea.”
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24