Caster verdien nie dié vernedering
2009-09-17 04:03
Wilhelm de Swardt
Caster Semenya se afrigter wou gister niks sê oor die beweerde geslagstoetse wat sy atleet op 7 Augustus in die Medforum-hospitaal in Pretoria ondergaan het voor haar vertrek na die Wêreld-atletiekbyeenkoms in Berlyn, Duitsland, nie.
Na verneem word, het Michael Seme geweet van die toetse en het hy saam met haar na die hospitaal gery.
Seme het glo opdrag van een van Atletiek Suid-Afrika (ASA) se hoofbeamptes ontvang om toe te sien dat Semenya by die hospitaal uitkom. Die beampte se naam is aan Beeld bekend.
Seme is weg voordat die toetse afgehandel is.
“Dit is nie my plek om enige kommentaar te lewer oor wat nou aan die gebeur is nie. Miskien sal ek later praat.”
Seme het gesê die herrie rondom sy atleet begin hom nou ook vang. Hy sê hy is moedeloos oor al die slegte publisiteit oor Semenya.
“In my wildste drome het ek nie verwag dat dinge so sou handuit ruk nie. Die stories in die media hou net nie op nie en dit maak seer. Dit begin my as afrigter ook nou vang, want Caster verdien nie om so verneder te word nie", het Seme gesê.
“Wat vir my regtig hartseer is, is die feit dat al wat Caster vra is ’n regverdige kans om te kan hardloop.”
Prof. Kobus van der Walt van Tuks Sport het gesê van die universiteit se kant probeer hulle alles moontlik doen om vir
Semenya ’n normale studente¬lewe te verseker.
“Ons het dit aan haar duidelik gemaak dat sy ons net moet sê wat sy benodig en ons sal binne ons vermoë uit ons pad gaan om haar te help. Daar is ’n hele professionele span mense saamgestel wat gereed is om haar te help met enige probleme wat sy mag ondervind. Onder omstandighede gaan dit glo goed met haar,” het hy gesê.
Volgens Van der Walt sal dit ’n groot fout wees om Semenya nou te probeer dwing om met die media te praat.
“Ek persoonlik is ’n voorstander daarvan dat sy nou net uitgelos word. Sy het tyd nodig om tot verhaal te kom. Sy sal ons laat weet wanneer sy reg is om dinge verder te neem.”
Gistermiddag laat het afgevaardigdes van ASA en lede van die parlementêre portefeuljekomitee vir sport by die Universiteit van Pretoria vergader om te besluit hoe daar te werk gegaan moet word om ’n oplossing te vind vir die herrie om Semenya.
Semenya was besig om te oefen, maar is op versoek van die afgevaardigdes gevra om vinnig in te loer.
Daar is toe aan haar gesê dat sy kan staatmaak op die volle steun van albei organisasies.
Die oomblik toe die foto’s klaar geneem is, het Semenya laat spaander.
- Beeld