Caster veg terug
2009-09-24 21:04
Kaapstad- Die 800m-ster-atleet Caster Semenya het 'n stryd begin om haar waardigheid in ere te herstel.
Semenya se regspan het 'n brief aan die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) gestuur, waarin hulle dié organisasie vra om enige mediese rekords en rekords waarin sy toestemming gee om 'n geslagstoets te doen, aan hulle te stuur.
Haar prokureurs wil ook presiese besonderhede hê oor die IAAF se ondersoek na haar geslag en die IAAF se interne ondersoek oor hoe haar mediese uitslae aan die media gelek is, berig The Star.
Greg Nott, die prokureur aan stuur van die Dewey & LeBoeuf-regspan wat Semenya se saak op 'n pro bono-grondslag hanteer, weier om kommentaar te lewer op die brief.
"In die belang van ons kliënt wat reeds soveel verduur het, sal ons nie in dié stadium kommentaar lewer nie. Ons gaan nie 'n bohaai maak oor die sensitiewe situasie in die media nie."
Bronne in die IAAF het bevestig dat dié organisasie se regspan in die proses is om op dié brief te reageer.
Intussen gaan Atletiek Suid-Afrika (ASA) se baas Leonard Chuene sy pos behou.
Só het ASA-woordvoerder Chris Brits Donderdag aan Sapa gesê.
Chuene behou se posisie as grootbaas van die atletiekfederasie nadat die ASA 'n vergadering gehou het waarin hulle die Caster Semenya-saga bespreek het.
Brits het gesê ASA sal later op Donderdag nog 'n amptelike vrystelling bekendstel, maar hy't bevestig dat Chuene steeds die president van die liggaam is.
Chuene wou nie na die vergadering kommentaar lewer nie.
– Sapa, The Star