Caster sit op die kantlyn
2010-02-15 20:12
Wilhelm de Swart
Pretoria. – Elizna Naudé het Saterdag op Pilditch gedurende Gauteng-Noord se atletiekbyeenkoms bewys sy gaan nie maklik van haar Statebondspele-titel afstand doen nie.
Naudé het die diskusgooi vir vroue met ’n afstand van 61.59m gewen.
Dit is een van haar beste pogings nog en die eerste keer die afgelope 12 maande dat sy verder as 60 meter gooi.
“Pilditch is een van die moeilikste stadions vir ons diskusgooiers om goeie afstande te gooi. My vorige beste afstand op Pilditch was maar 60?m. Daarom is ek meer as tevrede met my vertoning,” het Naudé gesê.
Caster Semenya, die vroue-wêreldkampioen in die 800m, was dié byeenkoms se bekendste toeskouer.
Sy was heel ontspanne en het selfs tyd vir ’n grappie gehad.
“Miskien is ek klaar met atletiek,” het sy glimlaggend gesê.
Michael Seme, haar afrigter, het dadelik bygevoeg dat Semenya nie ernstig is as sy dít sê nie.
Volgens hom is Semenya steeds passievol oor atletiek en kan sy nie wag om weer te begin deelneem nie.
Semenya het gesien hoe Oscar Pistorius, Suid-Afrika se ander hoëprofiel-atleet, die 400?m vir mans in 46.82?s wen. Willie de Beer was tweede in 47.32s.
Eugenie Wicksell het beïndruk met die wyse waarop sy die 400m vir vroue gewen het. Sy het van meet af aan voor gehardloop. Haar wentyd was 54.76s.
Ikuko Nishikori-Creighton, Japan se vroue-rekordhouer, het die paalspring met ’n hoogte van 3.80m gewen.
Sy het agterna gesê sy is nog erg verroes.
“Dit is die eerste keer ná my troue dat ek weer aan ’n byeenkoms deelneem.”
Chayne Rahme het die paalspring vir mans met ’n hoogte van 5.00m gewen.
Burger Lambrechts is Gauteng-Noord se gewigstoot-kampioen nadat hy die ysterbal 18.98m deur die lug laat trek het.
Op Sentraal-Gauteng se byeenkoms in Germiston het Tsamano Setone daarin geslaag om Hoseah Tjale se 15 jaar oue provinsiale rekord in die 5000m na 13:54.30 te verbeter.
Zark Visser het die verspring vir mans met ’n sprong van 7.76m gewen.
Dylan Cotter het vir die Junior Wêreldbyeenkoms gekwalifiseer deur 7.61?m ver te spring.
Isaac Mbuyasa het die 1?500?m in 3:45.10 gewen en Sibusiso Sishi die 400?m in 46.30?s.
Wade Jooste se wentyd in die 100?m was 10.41s.
* Op die Vrystaat se provinsiale byeenkoms het Frans Human die 13de agtereenvolgende keer die spiesgooi-titel gewen. Sy wenafstand was 66m.
Chris Harmse het die hamer 69.90m ver geslinger. Thuso Mpuang het die 100?m in 10.62s gewen en die 200m in 21.60.
- Beeld