Caster se een doelwit
2011-08-26 07:05
Daehu (Suid-korea) – Dit sal ’n fout wees om Caster Semenya, vroue-wêreldkampioen in die 800 m, te vroeg te wil afskryf.
Só het Jukka Härkönen, haar agent, die Suid-Afrikaanse atleet se teenstanders Donderdag op die opwarmingsbaan net buite die Daegu-stadion gewaarsku.
“Die rede waarom Caster nog nie vanjaar werklik tot haar reg gekom het nie, is omdat sy vir haarself net één doelwit gestel het, en dit is om op die Wêreldbyeenkoms op haar beste te wees.
“Dit is al byeenkoms wat vir haar saak maak. Haar hele oefenprogram is só opgestel om haar te help om dit reg te kry.
“So daar was geen manier waarop sy vooraf op die Diamantliga-byeenkomste goeie tye sou kon hardloop nie.
“Wat mense ook nie moet vergeet nie, is dat Caster aan amper 17 wedlope in die plaaslike seisoen deelgeneem het. Dit het beslis sy tol geëis.”
Hoewel Semenya se voorbereiding goed verloop het, is Härkönen effens bekommerd oor haar gemoedstoestand.
“Die mense besef nie onder hoeveel druk sy verkeer nie. Alles wat sy doen of nie doen nie, word onder ’n vergrootglas geplaas. Dit gaan nooit net om atletiek as Caster ter sprake is nie.
“Baie ander atlete sou onder dieselfde omstandighede al lankal die handdoek ingegooi het. Daar word vergeet dat sy eintlik nog ’n jong vrou is en ook emosioneel seerkry wanneer daar sekere dinge oor haar gesê en geskryf word.”
Ondanks alles bly Semenya volgens Härkönen een van die gewildste atlete in die wêreld.
“Net in die afgelope twee weke het ek 57 versoeke van joernaliste ontvang wat onderhoude met haar wil voer.”
Semenya neem Donderdag aan die uitdunne deel.
Haar landgenoot Khotso Mokoena, silwermedalje-verspringwenner op die Wêreldbyeenkoms in Berlyn twee jaar gelede, was ná die oefensessie in ’n goeie bui.
“Ek het goed geoefen, en ek voel goed. Anders as met die vorige Wêreldbyeenkomste is daar geen druk op my om te presteer nie. Ek weet niemand gee my eintlik ’n kans om ’n medalje te wen nie. Dit is soos ek daarvan hou. Hou dié underdog dop. Hy verras dalk net.”
Mokoena neem Donderdag deel.
Thumelo Thugane, Suid-Afrikaanse driesprong-kampioen en Mokoena se goeie vriend, was versigtig optimisties dat hy verder as 17 m sal kan spring.
“Die eerste keer in amper drie jaar keil my vastrap-enkel my nie op nie. So ek kan net fokus op dit wat saak maak en dit is om regtig ver te probeer spring.”
Volgens Thugane was hy lanklaas so ontspanne voor ’n groot byeenkoms.
“Ek dink dit is omdat ek die eerste keer besef dit gaan my niks in die sak bring om my dood te bekommer oor wat my teenstanders doen nie.
“Ek het in elk geval geen beheer daaroor nie.”
Thugane sal volgende Vrydag in aksie wees.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg