Caster 'sal veg vir titel'
2011-08-25 07:00
Johannesburg. – Caster Semenya sal “hard veg” om haar wêreldtitel in die 800 m te behou, het dié Suid-Afrikaanse atleet se bestuurspan haar ondersteuners verseker.
Semenya se bestuurspan het gister ’n verklaring namens haar uitgereik om te ontken dat sy probleme ondervind aan die vooraand van die Wêreldbyeenkoms in Daegu, Suid-Korea, wat Saterdag begin.
Onlangse berigte wou dit hê dat die 20-jarige Semenya vanjaar baie wisselvallig vertoon het omdat ’n ou rugbesering haar weer opkeil, sy onfiks is, nie genoeg oefen nie en daar ook glo ’n dreigende breuk tussen haar en haar afrigter, Michael Seme, is.
Semenya het met haar vertrek uit Johannesburg geweier om verslaggewers te woord te staan hoewel Atletiek Suid-Afrika laat weet het sy is beskikbaar vir onderhoude.
“Die onlangse berigte in die media dat Caster Semenya nie reg is om haar wêreldtitel in die 800 m te verdedig nie, is onwaar,” lui die verklaring van haar bestuurspan.
“Semenya is steeds gedissiplineerd, gefokus en baie opgewonde om Suid-Afrika op die Wêreldbyeenkoms te verteenwoordig.”
Semenya het vanjaar in Daegu baie om te bewys, nadat sy die atletiekwêreld twee jaar gelede as ’n totaal onbekende tiener geskud het met haar spog-vertonings in die 800 m in Berlyn.
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg
- Sapa - AP