Caster lyk pure goud
2011-07-10 09:00
Johannesburg - Só ’n Caster Semenya gaan haar wêreldtitel oor minder as twee maande in Daegu, Suid-Korea, met die grootste gemak suksesvol verdedig.
En ... die verspringer Khotso Mokoena begin stadig maar seker weer lyk na die man wat Suid-Afrika se enigste Olimpiese medalje by Beijing 2008 gewen het.
En ... Oscar Pistorius begin bestendig spiere bult teen die planeet se beste nie-gestremdes in die 400. Net jammer dié item beleef sy grootste laagtepunt in jare en sy oorsese broers hardloop sulke stadige tye dat hulle hom (nog) nie tot die verlangde kwalifiserende vereiste vir die wêreldkampioenskappe (45.25) kon aanhelp nie.
Die spiesgooier Sunette Viljoen verbeter steeds, hoewel haar buitelandse susters ietwat kommerwekkend yslike afstande begin gooi.
En Ruben Ramolefi is óók aan die opmars, hoewel hy steeds nie veel meer as ’n blote skadu doer in die agtergrond in die 3 000-hindernis bly nie.
Dít, in kort, is die verhaal van Suid-Afrika se vyf deelnemers aan die Diamantliga-atletiekbyeenkoms Vrydagaand in Parys ... ’n byeenkoms waarin die Jamaikaanse superman Usain Bolt ’n verkoue met ’n beskeie 200-sege geklop het.
Caster se oorwinning in die 800 kan op etlike maniere beskryf word. Soos in onheilspellend vir haar teenstanders, takties naïef en kragtig.
Toe die klok vir die laaste 400 meter lui, was sy nog nêrens nie. Meter vir meter het sy toe van feitlik heel laaste af met kragtige hale verby ál wat teenstander was gehardloop – en hoewel haar wentyd (2:00.18) niks is om oor huis toe te skryf nie, kon geeneen van haar teenstanders haar hoegenaamd in die pylvak skrik maak nie.
Sy lyk doodeenvoudig in ’n klas van haar eie (en onthou, sy’s maar 20 jaar jonk).
Mokoena het toe (eindelik) met sy beste sprong vanjaar (8.25) die Daegu-vereiste (8.20) oortref. Dís ’n sentimeter duskant sy jong landgenoot Luvo Manyonga se 8.26 van nou anderdag – dié twee sal in Daegu as ’n puik SA pakket aantree.
Mokoena was in Parys vierde, maar hy hoef hoegenaamd nie te skrik vir sy oorwinnaars daar (die Panamese Olimpiese kampioen Irving Saladino 8.40 en die Britte Chris Tomlinson 8.35 en Greg Rutherford 8.27) nie.
Oscar was vyfde in 45.84 in ’n wedloop wat deur Christopher Brown (Bahamas) in 44.94 gewen is. Dis die derde keer vanjaar dat Oscar onder 46.00 draai – en die feit dat selfs die Yank-superster Jeremy Wariner hom net-net met ’n 45.50 om die vierde plek kon klop, bewys dat dié Suid-Afrikaner nie meer bloot om sy uitsonderlikheid na groot byeenkomste soos dié genooi word nie.
Dat die planeet se bestes deesdae swoeg om selfs onder 45 sekondes (!) te draai, is jammer, want Oscar het juis nóú ’n paar blitse nodig om hom na daai steeds ontwykende 45.25 aan te help.
Sunette se beste afstand vanjaar (61.74) was net goed genoeg vir ’n sesde plek. Die Europese amasones Christina Obergföll (Duitsland, 68.01), Barbora Spotakova (Tsjeggië, 67.57) en Mariya Abakumova (Rusland, 65.12) lyk tans na die waarskynlikste Daegu-podiummateriaal – maar onthou, Sunette hét laas jaar met ’n 66.38 ontplof toe dit begin saak maak het.
’n Sewende plek in 8:14.36 in ’n 3?000-hindernis-wedloop wat in 8:02.09 deur (nogal!) ’n Fransman gewen is, verteenwoordig nou nie ’n aardbewing op die Richterskaal nie – maar dit ís Ramolefi se tweede beste tyd vanjaar en hou belofte in.
Internasionaal was Bolt se 200-wentyd (20.03) sy swakste sedert September 2007. Met die Yank-blits Tyson Gay wat nou anderdag geopereer is en Bolt se landgenoot Asafa Powell wat weliswaar die derde vinnigste 100-man tot nog toe is, maar in groot wedlope aanhoudend vou, lyk mansnaellope in die opmars na Daegu skielik dun.