Caster en Luvo op koers
2011-09-02 08:01
Daegu, Suid-Korea – Caster Semenya, die Suid-Afrikaanse wêreldkampioen in die 800 m, hou nie van die media nie.
Dít was Donderdag hier baie duidelik nadat sy op die Wêreld-atletiekbyeenkoms klaar aan die 800 m-uitdunne deelgeneem het.
Semenya het vir Vrydag se halfeindronde gekwalifiseer met ’n tyd van 2:01.01.
Dit was die vyfde vinnigste tyd in die uitdunne.
Ná haar wedloop het sy internasionale joernaliste oopmond van verbasing gelaat toe sy geweier het om enige onderhoude toe te staan.
“Ek het niks om te sê nie. Ek het deurgedring en dit is dit,” het sy in die verbygaan gesê.
Sy het wel ’n paar oomblikke met Daniel Mothowagae, ’n joernalis van City Press, gepraat.
Volgens hom het Semenya gesê dat sy tevrede is met hoe haar wedloop verloop het en dat sy nog glad nie aan die eindronde dink nie.
Al wat nou vir haar saak maak, is om goed in die halfeindronde te hardloop en sy sal eers aan die eindronde begin dink as sy gekwalifiseer het.
Benewens die vertoning van Semenya, LJ van Zyl in die 400-hekkies en die 4x400-aflosspan, was daar uit ’n Suid-Afrikaanse oogpunt nie veel om oor opgewonde te raak nie.
Khotso Mokoena, het in wat seker nie ’n verrassing is, nie vir die verspring-eindronde kwalifiseer nie.
Irving Saladino, Panama se Olimpiese kampioen, se beste afstand van 7.84 m was ook nie goed genoeg om deur te dring nie.
Mokoena se stryd om sy aanloop na die plank reg te kry, duur voort. Hy het met albei sy eerste twee spronge oorgetrap.
Die probleem is dat hy sy aanloop hanteer soos ’n naelloper oor 30 of 40 m wat daartoe lei dat hy nie ordentlik kan vastrap nie.
Hy het eers met sy laaste sprong sy tegniek reggekry en toe 8 m ver gespring, maar dit was net die 15de beste sprong in die uitdunne.
Mokoena, wat met ’n nuwe Mohawk-haarstyl spog, het die vinnige aanloopbaan die skuld gegee.
Die goeie nuus is dat Luvo Manyonga, Suid-Afrika se junior wêreldkampioen, wel tot die eindronde deurgedring het. Hy het met sy laaste sprong 8.04 m ver gespring Manyonga het Mokoena gelyk gegee dat die vinnige aanloopbaan dinge bemoeilik het.
“Ek moes behoorlik kophou en met elke sprong my tegniek aanpas totdat ek dit reggekry het. Ek is regtig teleurgesteld dat Khotso nie deurgedring het nie. Met twee van ons in die eindronde was die kans net soveel beter om ’n medalje vir Suid-Afrika te wen.”
- Ruben Ramolefi het in die 3 000-hindernis vir die eerste helfte van die wedloop voor gehardloop. Dit het hom duur te staan gekom, want toe die wedloop in alle erns begin het, het hy niks in sy tenk oorgehad nie.
Hy was eindelik 13de in 8:30.47.
Ezekiel Kemboi, wêreldkampioen van Kenia, het in 8:14.85 gewen.
- Soos die noodlot dit wou hê, het Robert Oosthuizen met sy eerste gooi die skouer van sy gooi-arm beseer.
Dit was so erg dat hy die gevoel in sy hand begin verloor het, maar hy wou nie bes gee nie. Hy kon net afstande van 69.67 m, 73.14 en 72.79 behaal.
- Justine Robbeson (58.08 m in die spiesgooi) en Elroy Gelant (13:48.33 in die 5 000 m) het nie deurgedring nie.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24