Cancellara onttrek uit Vuelta
2010-09-18 14:29
Toledo, Spanje - Fabian Cancellara van Switserland sal dalk nie aan volgende week se wêreldkampioenskappe deelneem nie nadat hy hom aan die Vuelta-fietstoer in Spanje onttrek het.
Cancellara is die huidige wêreld- en Olimpiese tydtoetskampioen en sou sy titel in Geelong, Australië vanaf 29 September tot 3 Oktober verdedig.
Maar na 'n suksesvolle dog strawwe fietsryseisoen, het die Saxo Bank-ryer reeds aan die begin van die drie weke lange Vuelta, van moegheid gekla.
Volgens organiseerders van die Vuelta het Cancellara Donderdag, kort na die 120 km merk van die 231 km lange skof tussen Piedrahita en Toledo, die handdoek ingegooi.
Die Switser het onlangs gesê dat enige besluite wat hy oor wêreldbyeenkomste maak sal afhang of hy "100% fiks is".
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24