Cancellara kry nuwe span
2010-12-01 11:25
Parys - Die Olimpiese tydtoetskampioen, Fabian Cancellara van Switserland, het 'n kontrak van drie jaar met die nuwe Luxemburg Pro-fietsryspan gesluit.
"Die Luxemburg Pro fietsry projek wil graag aankondig dat Fabian Cancellara oor die volgende drie jaar vir die span sal jaag," is Dinsdag in 'n verklaring bekend gemaak.
Die Switser het vanjaar vir Bjarne Riss se Saxo Bank saam met Andy en Frank Schleck van Luxemburg gejaag.
Die Luxemburg Pro fietsry projek word bestuur deur Brian Nygaard, 'n voormalige media beampte vir die Saxo Bank en Team Sky spanne.
Bjarne Riss het onlangs die driemalige Tour de France-kampioen, Alberto Contador, wat positief getoets het vir clenbuterol in Julie, vir Saxo Bank gekontrakteer.
Die Spanjaard is voorlopig geskors totdat die Internasionale fietsryvereniging (UCI) en die wêreldliggaam teen opkikkers (Wada) hul ondersoek afgehandel het.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24