Van der Burgh en Le Clos blink
2010-12-23 08:30
Johannesburg - Suid-Afrika het reeds twee swemmers wat ’n uitstekende kans het om gróót opslae op die Olimpiese Spele in 2012 in Londen te maak – en ’n handvol ander wat met ’n klein bietjie geluk ook ’n suksesvolle uitstappie kan hê.
Dit is die logiese afleiding ná nóg ’n wonderlike jaar vir Suid-Afrikaanse swem, een waarin die land se voorste swemmers die medaljes weer met reëlmaat laat instroom het.
Hulle het veral op die Afrika-byeenkoms in September in Marokko, die Statebondspele in Indië in Oktober en in die Wêreld-kortbadreeks uitgetroon.
’n Groep jongelinge, wat nie in die Statebondspele-span was nie, het 27 goue, 16 silwer en 16 bronsmedaljes op die Afrika-byeenkoms gewen.
Altesaam 15 Suid-Afrikaners het op die Statebondspele in Nieu-Delhi deelgeneem en 16 medaljes, waarvan sewe goud was, verower.
Die water het skaars ophou spat in Nieu-Delhi se SPM-swemkompleks toe Cameron van der Burgh, Roland Schoeman en Darian Townsend amok gemaak het in die kortbad-reeks.
Townsend was algeheel tweede in dié reeks en Schoeman derde. Maar op die laaste byeenkoms van die jaar in Doebai het 13 mans en vroue net drie medaljes op die Wêreld-kortbad-byeenkoms gewen waar die room van wêreldswem in aksie was.
Die twee mans wat daar op die podium gestaan het – Cameron van der Burgh en Chad le Clos – sal die fynste dopgehou word in die aanloop tot die Londen-Spele van 2012.
Van der Burgh het goud in die 100-borsslag gewen om te voeg by die Statebond-goue wat hy in dieselfde nommer en in die 50-borsslag gewen het.
Waar niemand in 2009 in die 50 m-kortbadnommer by hom kon kers vashou nie, is hy ná 2010 die koning van die belangriker nommer, die 100-borsslag. Die 100 is ’n Olimpiese nommer, maar die 50 nie.
Le Clos se goue in die 200-vlinderslag het gewys dat sy onverwagse dubbele sukses op die Statebondspele (seges in die 200-vlinderslag en 400- individuele wisselslag) geen gelukskoot was nie. Dié 18-jarige matrikulant is ’n man vir die groot oomblik.
Die jaar was ook weer ’n grote vir Natalie du Toit, wat haar Statebondspele-loopbaan in Nieu-Delhi met drie goues afgesluit het. Sy gaan ná die Paralimpiese Spele van 2012 uittree.
Jongelinge soos Wendy Trott, Heerden Herman, Graeme Moore en Gideon Louw het vanjaar ook gewys dat hulle ’n blink toekoms het.
Trott (800-vryslag) en Herman (1 500-vryslag) het Statebond-silwer gewen en Herman het twee weke gelede die eerste Suid-Afrikaner geword wat die 1 500-vryslag in minder as 15 minute voltooi.
Moore en Louw lyk na toekomstige sterre in die vry- en vlinderslag.