Cadel dra Tour-kroon
2011-07-25 09:41
Pretoria – Die toer van eerstes is hoe 2011 se Tour de France onthou sal word.
Cadel Evans (BMC) is die eerste Australiër wat die Tour wen en Mark Cavendish (HTC-Highroad) is die eerste Britse fietsjaer wat die groentrui (punte-afdeling) syne gemaak het.
Die Schleck-broers, Andy en Frank (Leopard Trek), het die eerste broers geword wat saam op die Tour se wennerspodium gestaan het. Andy was algeheel tweede en Frank derde.
Evans se sege beteken dat 12 lande nou daarmee kan spog dat hulle ’n Tour de France-kampioen opgelewer het.
Soos verwag, spog Frankryk se jaers tot nou met die meeste Tour-seges in die geskiedenis.
Franse jaers het reeds 35 keer gewen waarna Belgiese jaers (18), Spanjaarde (12), Amerikaners (10), Italianers (9), Luxemburgers (4), Switsers en Nederlanders (elk 2) volg. Ierland, Duitsland en Denemarke het elk een wenner opgelewer.
Evans se Tour-sege maak groot opslae in Australië. Daar word in die Australiese media berig dat Julia Gillard, die eerste minister, daaraan dink om ’n nasionale vakansiedag aan te kondig om sy sege te vier.
Die oomblik toe Evans Sondag in die Champs-Élysées in Parys in die laaste skof oor die eindstreep ry, het sy emosies oorgeneem.
Die trane het vryelik oor sy wange gerol terwyl sy spanmaats hom omhels het. Dit was die oomblik waarvoor hy so lank gewag het.
In 2007 was hy tweede, 23 sekondes agter Alberto Contador en in 2008 ook tweede, 58 sekondes agter Carlos Sastre.
“Dit is ongelooflik. Ek wil net dankie sê aan die handjievol mense wat nog altyd in my fietsry-vermoëns geglo het. Ek het self nog nooit daaroor getwyfel dat ek eendag die Tour sal wen nie, maar dit was ’n lang proses waarin ek vele teleurstellings moes verwerk.
“Maar om die Tour te wen, maak al die opofferings die moeite werd,” het Evans in ’n televisie-onderhoud gesê.
Op die vraag oor die impak van sy Tour-sege op Australiese fietsry, het hy gesê hy het nog nie eens daaraan gedink nie.
Evans het seker gemaak hy wen die Tour toe hy Saterdag in die individuele tydtoets (42.5km) tweede geëindig het. In die proses het hy sy 53 sekonde-agterstand in ’n voorsprong van 1 minuut 34 sekonde oor Andy omskep.
Tony Martin (Garmin-Cervelo) het die tydtoets in 55 minute en 33 sekondes gewen. Alberto Contador (Saxo Bank), driemalige Tour-wenner, was derde.
Cavendish het Sondag se laaste skof van Creteil na Parys (95km) gewen. Dit was sy vyfde sege en sy 20ste in die Tour se geskiedenis.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24