Byna 700 km wink vir bergfietsspanne
2010-10-18 07:32
Oudtshoorn - As die skoot Maandag hier klap vir die begin van die tweede DCM Cape Pioneer Trek sal die debat oor wie dié sesdaagse bergfietstoer gaan wen in alle erns toeneem, want lanklaas was dit só moeilik om ’n wenner vir só ’n toer te voorspel.
Die Cape Pioneer begin op die Chandelier-wild- en volstruisplaas en eindig 680km en 13119m se klimwerk later wéér hier. Die eerste skof eindig ná 135km in Mosselbaai.
Daar is sommer ’n lang lys van moontlike wenners, maar daar is plek vir net een span op die boonste trappie van die wennerspodium.
Daar sal nuwe wenners gekroon word, want net een lid van verlede jaar se wenkombinasie, Erik Kleinhans (GT-Mr Price), is weer in aksie. Hy jaag saam met Oliver Munnik.
Vir heelwat kenners is die Afrika-kombinasie van Kevin Evans en Adrien Niyonshuti (MTN-Energade) die gunstelinge.
Evans is een van Suid-Afrika se voorste langasem-bergfietsryers en Niyonshuti is Rwanda se blinkste ster. Evans het juis Saterdag die Seweweekspoort-marathon gewen.
Volgens Evans is dit een skof op ’n slag en geen voorspellings oor ’n plek op die wennerspodium nie.
“Die Cape Pioneer was nie deel van my beplanning nie, maar toe Adrien my vra om saam met hom te ry kon ek nie vir hom nee sê nie,” het Evans gesê.
Dit Switserse duo van Christoph Sauser en Silvio Bundi, wat in 2006 die Cape Epic gewen het, is ook teenwoordig en diegene wat dink die twee is net in die Karoo om pret te hê, sal hulself lelik misgis.
’n Kombinasie wat fyn dopgehou moet word, is dié van Suid-Afrika se Max Knox en Thomas Zhand van Switserland. Knox is uitstekend in toere. Hy het aan die Three Towers-bergfietstoer in die Laeveld oor drie dae, wat eers gister geëindig het, deelgeneem. Volgens Knox is dit nie té veel gevra om twee bergfietstoere in nege dae baas te raak nie.
Skofte vir Cape Pioneer Trek:
Vandag (eerste skof): Oudtshoorn na Mosselbaai, 135km; Môre (tweede skof): Mosselbaai na George, 110km; Woensdag (derde skof): George na De Rust, 106km; Donderdag (vierde skof): De Rust na Prins Albert, 110km; Vrydag (vyfde skof): Prins Albert na Calitzdorp, 105km; Saterdag (sesde en laaste skof): Calitzdorp na Oudtshoorn, 114km.
– Sport24
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg