Burry-hulle druk vroeg stempel af
2011-03-28 10:00
Kaapstad - Suid-Afrika se Burry Stander en sy Switserse spanmaat, Christoph Sauser, het wéér eerste bloed geruik in die Absa Cape Epic-bergfietstoer.
Stander en Sauser (Specialized-songo.info-36ONE) het die proloog oor 27 km Sondag hier in 1 uur, 2 minute en 40 sekondes gewen. Hulle het ook in 2009 die proloog van die Epic gewen.
Die Duitsers Hannes Genze en Jochen Kaess (Multivan Merida) was meer as ’n minuut stadiger in 1:04.22. Die verdedigende kampioene, Karl Platt en Stefan Sahm van Duitsland, was derde in 1:04.35.
Vir diegene wat gedink het dit gaan ’n maklike dag in die saal wees, was daar sommer vroeg-vroeg al slegte nuus. Dit was ’n taai roete met verskeie tegniese uitdagings.
“Dit was van die begin tot die einde baie hard,” het Stander gesê.
“Die plan in ’n tydtoets of proloog is om net altyd so vinnig moontlik te ry. Daar is nie juis taktiek betrokke nie. Gewoonlik sal ek die pas aangee in sulke kort skofte, maar vandag was Christoph baie sterk. Ek het hom nog nooit so gemotiveerd gesien nie,” het Stander hul teenstanders gewaarsku.
Volgens Stander het hy en Sauser nie oor ’n moontlike voorsprong gepraat voor die begin van die proloog nie.
“Natuurlik is ons baie bly dat ons nou voor is, maar vandag wou ons net seker maak ons ry goed en maak geen dom foute nie.”
Die Suid-Afrikaanse kombinasie van Kevin Evans en David George (360Life) was voor die tyd een van die gunstelinge om die proloog te wen. Hulle het vierde, meer as 2 minute agter Stander en Sauser, geëindig.
Daar was egter nie te veel bekommerde gesigte by die eindpunt nie, want almal weet die Epic word nie op die eerste dag gewen nie. En twee minute op ’n bergfiets is soos sekondes.
Daar is sewe dae oor en sedert 2008 het die wenner van die eerste dag nog nie die Epic gewen nie. Die laaste keer toe dít wel gebeur het, was in 2007 toe Platt en Sahm die eerste dag gewen én die algehele sege behaal het.
Maandag se eerste skof oor 89 km begin om 07:00 op die Saronsberg-wynlandgoed in Tulbagh.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24