Bradley Wiggins is sportpersoon van die jaar
2012-12-17 10:45
Londen – Die Tour de France-wenner en Olimpiese kampioen Bradley Wiggins is Sondag tydens 'n glansgeleentheid in Londen, as die BBC se sportpersoonlikheid van die jaar aangewys.
Meer as 1,5 miljoen mense het ingebel om aan die openbare peiling deel te neem.
Jessica Ennis, Olimpiese sewekamp-kampioen, het die tweede meeste stemme ontvang gevolg deur Andy Murray, wat vanjaar by die Amerikaanse Ope én die Olimpiese Spele geseëvier het.
"Ek gaan net baie dankie sê aan almal wat die telefoon opgetel het om vir my te stem," het die 32-jarige Wiggins, wat vanjaar die eerste Britse wenner van die Tour de France geword het, tydens die seremonie gesê.
"Wat 'n jaar. En om op die verhoog saam met al hierdie mense rondom my te staan, is ongelooflik."
Prins William se swanger vrou, Catherine, het die toekenning aan Wiggins oorhandig in haar eerste openbare verskyning sedert sy sowat twee weke gelede vir erge oggendnaarheid in die hospitaal opgeneem is.
Lees verder.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- SAPA