Bouwer wen silwer in 100-finaal
2012-09-03 20:58
Kaapstad – Die Suid-Afrikaanse swemmer Charles Bouwer het 'n silwer medalje in die 100-rugslag-finaal (S13-kategorie) by die Paralimpiese Spele in Londen gewen.
Bouwer se tyd was 59,92 sekondes en hy het ook 'n nuwe Afrika-rekord opgestel.
Hy het reeds twee medaljes, goud in die 50-vryslag en silwer in die 100-vryslag, by vanjaar se Paralimpiese Spele verower.
Ihar Boki (56,97) van Belarus het die goue medalje gewen.
Nog 'n Suid-Afrikaner Union Sekailwe het 'n brons medalje in die mans 400-finaal (T38-kategorie) gewen.
Sekailwe se tyd was 51,97.
Mohamed Farhat Chida (50,43) van Tunisië het goud gewen en Wenjun Zhou (51,56) van China silwer.
Marius Stander (53,97), die ander Suid-Afrikaner wat aan die wedren deelgeneem het, het in die sesde plek klaargemaak.
Die atleet Pieter Du Preez het tydens die mans se 100-finaal (T51-kategorie) sesde geëindig.
Toni Piispanen (21,72) van Finland het goud gewen en 'n nuwe Paralimpiese rekord opgestel.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Nuus24.