Botha daag Sonny Bill uit om hergeveg
2013-02-09 11:40
Brisbane – Die Suid-Afrikaanse bokser Francois Botha het gesê Sonny Bill Williams sal 'n lafaard wees indien hy 'n hergeveg weier, berig Fox Sports News
Dít volg ná Vrydagaand se omstrede geveg tussen Botha en Williams in Brisbane.
Die Nieu-Seelandse rugbyster het die Suid-Afrikaanse swaargewig-kampioen geklop nadat die geveg op omstrede wyse vanaf 12 tot 10 rondes verkort is.
Die beoordelaars het die oorwinning met 97-91, 98-94 and 97-91 aan Williams toegeken.
Botha het 'n punt verloor omdat hy 'n hou gegooi het na die klok gelui het, maar Williams is ook met 'n punt gestraf vir negatiewe boks toe die Suid-Afrikaner hom in die negende ronde begin seermaak het.
Dit het intussen aan die lig gekom dat verteenwoordigers van albei partye voor die geveg ingestem het om dit te verkort. Botha se kamp het hom nie van dié verwikkeling ingelig nie, omdat hulle nie sy aandag voor die wedstryd wou aflei nie.
"Hy gaan 'n hergeveg doen. Indien hy dit nie doen nie sal hy as 'n lafaard gesien word," het Botha gesê.
"So laat hom terugkom en laat hy die Buffel in sy tuisdorp aanvat."
Intussen het 'n streekboksbeampte die organiseerders van Williams se titelgeveg gekritiseer en gesê hulle het die Australiese publiek bedrieg, berig Sapa-AP.
Brad Vocale, verteenwoordiger van Wêreldboksvereniging (WBA) Oceania, het gesê hy het begin wonder of die geveg ooit deur die WBA goedgekeur is. Hy het verder gesê dit is "hartseer dat boks weer 'n blou-oog toegedien is".
Baie aanhangers was omgekrap oor die besluit en het geglo Botha het gewen.
Saterdag het sommige wedagentskappe geld aan wedders terugbetaal oor die boksgeveg.
– Volg Nuus24Sport op Twitter