Boris Becker se afrigter sterf
2012-12-06 12:18
Ljubljana, Slowenië – Boris Breskvar, die man wat die Duitse tennissterre Boris Becker en Steffi Graf ontdek het, is Woensdag na 'n lang siekte oorlede. Hy was 70.
Breskvar, wat in Slowenië gebore is, was 'n afrigter by die Baden-tennisklub in Duitsland toe hy Becker en Graf raakgesien en hul talent help ontwikkel het.
Hy was ook verantwoordelik vir die suksesvolle loopbane van ander groot spelers soos Andrei Medvedev van die Oekraïne en Duitsland se Anke Huber.
"Ek is baie hartseer om te hoor van Boris Breskvar se dood," het Becker aan die Duitse dagbald Bild gesê.
"Hy was 'n passievolle afrigter, baie gedissiplineerd, taai dog regverdig," het die voormalige nr.1-speler en sesmalige Grand Slam-wenner, wat die jongste Wimbledon-kampioen op 17-jarige ouderdom was, gesê.
Becker was ses jaar oud toe hy saam met Breskvar begin oefen en eindelik sy professionele buiging in 1984, onder die leiding van die Roemeens gebore afrigter Guenther Bosch, gemaak het.
Breskvar, wat ook vir baie jare die kaptein van Slowenië se Davisbeker-span was en 'n tennisakademie in Ljubljana saam met sy seun begin het, moes in 2007 verskeie breinoperasies ondergaan.
Volgens sy vrou, Karmen, het hy in 'n tehuis gesterf.
Volg Nuus24 op Twitter.