Boonen wen 1ste skof in Katar
2012-02-06 15:07
Doha – Die beseringsgeteisterde Belgiese fietsjaer Tom Boonen is weer terug in die saal, nadat hy Sondag die eerste skof (133.5 km) van die Toer van Katar gewen het.
Boonen het in 'n bondelnaelrit voor Adam Blythe van Brittanje en Peter Sagan van Slowakye oor die eindstreep gejaag.
Die Belg het 'n skof in verlede week se San Louis-fietstoer in Argentinië gewen en sy spanmaats meen hy is besig om sy vorm te herwin.
"Ek is vol vertroue dat ek nog met top-jaers kan meeding al is dit nie my prioriteit nie," het Boonen gesê.
"Verlede jaar hierdie tyd het ek gesukkel met pyn in my linkerbeen as gevolg van die knie-operasie wat ek moes ondergaan."
"Die pyn het maande lank geduur en toe breek ek boonop beentjies in my hand tydens die Toer van Spanje."
"Vandag is dit alles agter my en ek's beseringsvry," het Boonen gesê.
Maandag se tweede skof is 'n 11.3 km-tydtoets op 'n Grand Prix-motorfietsrenbaan in Lusail.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- AFP