Bolt se troon wankel
2011-08-21 11:30
Johannesburg – Feit 1: Usain Bolt is tot dusver vanjaar maar die planeet se sesde vinnigste man.
Feit 2: Yelena Isinbayeva se paalspring-rekordopmars het só opgedroog, dat sy op hierdie oomblik maar net nommer 3 op vanjaar se wêreldlys is.
Met atletiek se wêreldkampioenskappe wat eerskomende Saterdag in Daegu, Suid-Korea, begin, hang dié soort statistiek onheilspellend oor wêreldatletiek se twee grootste supersterre.
Bolt is reeds Saterdagoggend (SA tyd) op die eerste dag van die byeenkoms in die 100-uitdunne in aksie. Hy spring Sondagmiddag 13:45 (SA tyd) in die eindronde weg.
Iemand het eendag gesê ons gewone skepsels verstaan nie genieë nie. Hulle redeneer anders as ons, hulle doen dinge anders as ons. Ons moenie eens probeer om hul doen en late te verstaan nie.
Oukei, Bolt ís ’n atletiek-genie. Maar dit kort rêrig nie ’n vuurpyl-deskundige nie om te gesien het hy was vanjaar skaars ’n skadu van die man wat by die vorige wêreldkampioenskappe, in 2009 in Berlyn, met sy huidige wêreldrekords (9.58 en 19.19 in die 200) ontplof het.
Nadat hy feitlik die ganse 2010 op die kantlyn weens ’n besering was, het hy maar eers nou anderdag vanjaar die eerste keer gesig gewys. O ja, op sy enkele 2011-byeenkomste is hy nie geklop nie – maar dan is hy nie een keer getoets deur die planeet se nommer 2 (die Amerikaner Tyson Gay en sy landgenoot Asafa Powell) nie.
In sy wedlope het hy (a) bykans sonder uitsondering vrek sleg en stadig weggespring; (b) amper traak-my-nie-agtig eers kort voor die wenpaal na ’n effens vinniger rat oorgeskakel om net seker te maak hy wen; en (c) klaarblyklik die amper aanbiddende aandag van skares méér geniet as om hulle op top-vertonings op die baan te trakteer.
Sowel Gay as Powell is intussen vanjaar óók beseer – Gay só erg dat hy nie eens in Daegu gaan wees nie.
Powell is tans vanjaar se vinnigste man (9.78), gevolg deur Gay (9.79). Nommer 3, nóg ’n Jamaikaan Steve Mullings (9.80), is nou die dag die tweede keer vir steroïede positief getoets. Hy is óók nie in Daegu nie en staar lewenslange skorsing in die gesig.
Nommer 4 is ’n opkomende Yank genaamd Mike Rodgers (9.85); en nommer 6 nóg ’n Jamaikaan Michael Frater, wat, soos Bolt, ’n 9.88 agter sy naam het.
Op papier lyk Powell na ’n bedreiging vir Bolt. Nadat hy al hoeveel keer op byeenkomste soos dié voor die Bolt-toorkuns geswig het, beweer Powell dat hy nou ’n “nuwe” man is – en gereed is om die tot dusver swoegende Bolt die skrik van sy amper 25-jarige leeftyd (hy verjaar vandag) te gee.
Oorleef Bolt die 100-aanslag, lyk sy paadjie na ’n tweede goud in die 200 ’n bietjie makliker... al ís sy huidige 2011-beste (19.86) óók ligjare van dáái 19.19.
Dus, opgesom: Anders as vorige jare, is Bolt nie meer die verskrikking van ouds nie. Maar ons verstaan genieë nie, onthou...
* En dan is daar juffrou Isinbayeva. Sý, wat só moeilik die feit verwerk het dat sy by die vorige wêreldkampioenskappe nie eens op één hoogte kon slaag nie dat sy feitlik die ganse 2010 op ’n “sabbatsverlof” gegaan en nie gespring het nie.
Vanjaar het sy maar eers nou anderdag weer gesig gewys – en skielik besonder broos gelyk op pad na haar beskeie beste sover (4.76, teenoor haar wêreldrekord van 5.06 in Zürich... toevallig enkele dae ná haar Berlyn-flop). Die Amerikaner Jennifer Suhr (4.91) en ’n Duitser genaamd Martina Strutz (4.79) is nommer 1 en 2.
Soos Bolt, wéét die wêreld egter Yelena is iemand wat die grote op die rêrige groot oomblik kan uitpluk.
Behalwe nou natuurlik Berlyn 2009...
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg