Bolt hol eerste 100m in Korea
2010-04-21 01:21
Seoul, Suid-Korea - Die wêreldrekordhouer Usain Bolt gaan in Mei vanjaar aan sy eerste 100m naelloop van die seisoen in Suid-Korea deelneem.
Dié rekordhouer van die 100 én 200m sal op 19 Mei in Daegu, die gasheerland vir volgende jaar se wêreldkampioenskappe, deelneem.
Bolt sal ook Saterdag aan die 4x100 m aflos by ‘n atletiekbyeenkoms in Philadelphia in Amerika deelneem.
“Dit is vir ons ‘n groot voorreg om gasheer te wees vir die wêreld se vinnigste man in sy eerste 100m van die seisoen,” het Moon Dong-Hoo, mede-president van dié byeenkoms se reëlingskomitee gesê.
“Hy het ongelooflike ondersteuning in Korea en almal hier verwag dat hy die rekord sal breek, het Dong-Hoo gesê.
Bolt gaan sy eerste 200m van die seisoen by die Jamaika internasionale uitnodingstoernooi op 1 Mei hardloop.
- Sapa