Bolt het 'kortpad' na goud
2011-08-24 07:05
Daegu (Suid-Korea). – ’n Nuwe, meer kompakte kompetisie-skedule op die Wêreld-atletiekbyeenkoms sal die werklas van ster-atlete soos die driemalige wêreldkampioen Usain Bolt aansienlik verlig. Dit sal Saterdag hier begin.
Dié Jamaikaan en ander elite-atlete sal net ses naellope nodig hê om goud in die 100 m én 200 m te wen, eerder as die agt van vorige Wêreldbyeenkomste en Olimpiese Spele.
“Ons probeer om die program meer kompak en meer opwindend te maak,” het die Internasionale Atletiekfederasie (IAAF) se kompetisiedirekteur, Paul Hardy, aan Reuters gesê.
Die Daegu-byeenkoms wat op 4 September eindig, sal die eerste proeflopie vir die korter skedule wees wat ook op aanstaande jaar se Olimpiese Spele in Londen sal geld.
Een ronde van die 200 m is vir alle naellopers van die skedule verwyder en in die 100 m sal net diegene wat nie aan die kwalifiseringsvereiste voldoen het nie, vier keer moet deelneem.
Laasgenoemde verandering het die belangstelling gaande, aangesien dit Bolt en ander elite-naellopers se getal 100?m-renne van vier tot drie sal verminder.
Die huidige kampioen en ander top-naellopers sal hul aanslag op die 100-titel eers Saterdagaand afskop nadat stadiger deelnemers vroeër in die dag die eerste keer deelgeneem het.
“In die verlede het ons vier rondes (vir almal) gehad, maar nou het ons ’n uitdunronde vir al die deelnemers wat nie kwalifiseringstye behaal het nie,” het Hardy gesê.
Naellopers wat nie voor die byeenkoms aan die kwalifiserende vereistes voldoen nie, kan in Daegu deelneem, danksy ’n reël van die IAAF wat bepaal dat elke lid-federasie ’n man en vrou in elke nommer mag inskryf.
Nagenoeg 34 atlete sal danksy dié reël in die eerste ronde van die 100 m deelneem – en die bestes sal dan deurdring tot die rondes waaraan die elite-atlete ook deelneem.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg