Bolt: Vang my as jy kan
2010-05-15 03:28
Kingston - Die vinnigste man ter wêreld en die Olimpiese gouemedaljie wenner, Usain Bolt, sê dié seisoen is die beste tyd om te probeer om hom te wen.
Bolt, wat die rekordhouer is van die 100m-wêreldtitel van 9.58 sekondes en die 200m-wêreldrekord van 19.19 sekondes, sê hy beplan om die seisoen rustiger te wees.
"Ek dink dié seisoen – dalk moet ek dit nie sê nie, maar dit is die beste kans wat enigeen het om my te wen," het Bolt gesê.
"Dié seisoen is soortvan 'n maklike seisoen en gaan nie myself ooreis nie. Ek probeer soveel as moontlik rus."
Vanjaar is daar nie buitemuurse of Olimpiese medaljes op die spel nie, maar Bolt se twee grootste mededingers, Asafa Powell en Tyson Gay, het albei hul visier op Bolt se rekord.
"Ons probeer om nie aan te veel wedlope deel te neem nie en wanneer ons deelneem, probeer ons maklike wedlope kry," het Bolt gesê.
Hy het egter gesê net omdat hy dié seisoen rustiger is, beteken dit nie hy gaan nie hard probeer om elke wedloop te wen nie.
"Ek kan gewen word, maar ek gaan hard werk om nie gewen te word nie," het Bolt gesê.
– Sapa-AFP