Bolander laat oë rek
2010-04-12 12:09
Wilhelm de Swardt
Germiston - Die vreugedevure in atletiek het gisteraand hoog in die suide van die land gebrand.
Die 18-jarige Luvo Maniyona van die Boland het gister vir een van die groot hoogtepunte op die Suid-Afrikaanse junior- en jeug-byeenkoms gesorg toe hy die verspring vir junior mans met ’n afstand van 8,05 m gewen het.
Dit is net kort duskant Khotso Mokoena se junior rekord van 8,09 m en die sesde beste vertoning nog deur ’n Suid-Afrikaanse atleet.
Dan het die 18-jarige Ruaan van Wyk, ook van die Boland, vir die Wêreldbyeenkoms vir Juniors in Kanada gekwalifiseer deur 5,20 m in die paalspring te haal. Hy is net die 12de Suid-Afrikaanse atleet wat al op dié hoogte geslaag het.
Die 16-jarige Valentina da Rocha van die Westelike Provinsie was ook skitterend op dreef.
Dit gebeur nie sommer dat ’n atleet drie keer op een byeenkoms ’n Suid-Afrikaanse rekord verbeter nie.
Da Roche het met haar eerste sprong van 12,64 m Mariana Banting se Suid-Afrikaanse driesprong-jeugrekord (12,54 m) verbeter wat sedert 1998 staan.
Twee spronge later het sy 12,73 m gespring en toe met haar vierde sprong 12,77 m. Net sewe Suid-Afrikaanse atlete het al verder gespring.
“Ek was verbaas toe ek die eerste keer die rekord verbeter het. Die tweede keer was opwindend, toe skok ek myself met my derde rekordpoging. Ek het dit nie verwag nie, maar hierdie is net die begin. Ek weet ek kan nog verder spring,” het Da Rocha gesê, wie se vorige beste 12,18 m was.
Die 18-jarige Annemie Smith van die SWD het die Suid-Afrikaanse hamergooirekord vir junior vroue verbeter toe sy die ysterbal 55,25 m ver geslinger het. Met dié poging het sy ook vir die Wêreldbyeenkoms vir Juniors gekwalifiseer.
Dit is die derde keer vanjaar dat Smith ’n Suid-Afrikaanse titel wen. Smith is ook die Suid-Afrikaanse hamergooikampioen in die afdeling vir senior vroue en het op die Suid-Afrikaanse Skolebyeenkoms in Sasolburg die ysterbal die verste geslinger.
Om Maniyona se vertoning in perspektief te plaas: net Mokoena, die Suid-Afrikaanse rekordhouer en Olimpiese silwermedalje-wenner, het verlede jaar verder as 8 m gespring.
Mokoena se beste afstand op ’n buitenshuise byeenkoms vanjaar is 8,01 m, hoewel hy op die Binnenshuise Wêreldbyeenkoms in Katar 8,08 m gespring het.
“Ek het gehoop om 8 m te spring, maar niemand het my voorberei oor hoe ongelooflik dit voel wanneer jy dit regkry nie. Dit is ongelooflik,” het Maniyona gejubel. Maniyona is een van Boland Atletiek se groot suksesverhale. Hy kom uit ’n baie arm huishouding, want sy pa is werkloos en sy ma verdien ’n karige loon as huishulp.
Intussen glo die 18-jarige Cheyne Rahme, die Suid-Afrikaanse junior paalspring-kampioen, nie daarin dat nasionale rekords lank in rekordboeke moet staan nie.
Skaars ’n dag nadat hy die nasionale junior paalspringrekord tot 5,50 m verbeter het, begin hy daarvan praat om dié rekord die naweek op die Suid-Afrikaanse Studentebyeenkoms in Potchefstroom weer te verbeter.
“As paalspringer glo ek nou een maal daarin wanneer jy een doelwit verwesenlik het, moet jy dadelik vir jouself ’n nuwe doelwit stel. Ek wil 5,60 m spring sodat ek vir die Statebondspele (in Oktober in Indië) kan kwalifiseer.” Rahme is die vyfde Suid-Afrikaanse paalspringer wat 5,50 m hoog spring. Okkert Brits (6,03), Riaan Botha (5,91), Fanie Jacobs (5,60) en Pieter Brits (5,50) het dit voor hom vermag.
Die 17-jarige Rikenette Steenkamp van Noord-Gauteng is die ander atleet wat met drie titels spog. Sy het Saterdag die 100-hekkies vir junior meisies (o.20) in 13.87 s gewen. Sy het ook ’n bronsmedalje in die 200 m (24.18 s) gewen.
Thato Makhafola (Sentraal-Gauteng) het ’n SA jeugrekord in die 2 000-hindernis vir o.18-meisies opgestel deur in 7:21.00 te wen. Dit was die eerste keer dat dié nommer op ’n nasionale byeenkoms aangebied is. Gert Swanepoel het die SA junior rekord in die tienkamp verbeter.
- Die Burger