Boewe buit Sampras se bekers
2010-12-08 12:32
Los Angeles - Die tennislegende Pete Sampras het onder diewe deurgeloop nadat 'n magdom trofeë uit twee geslote stoorplekke in Los Angeles gesteel is.
Die Sampras-gesin was verlede maand besig om te trek en dus was sy trofeë in die stoorplekke.
"Om hierdie goed te verloor is soos om van die geskiedenis van my tennis-lewe ontneem te word," het die 39-jarige Sampras gesê.
Hy het in 2002 afgetree nadat hy 14 Grand Slam-titels ingepalm het. Dertien van sy trofeë is gelukkig nog in sy besit.
Die beker vir sy oorwinning tydens die Australiese Ope is egter een van die trotsstukke wat deur die skarminkels gebuit is.
"Ek is nie die tipe ou wat loop en spog met my titels of trofeë nie, maar ek sou graag wou hê dat my kinders dit kon sien. Hulle het my nooit sien speel nie."
- Sapa
Volg Nuus24 Sport op Twitter.