Bly weg, sê Comrades-arts
2010-05-28 07:02
Durban – Enige van die meer as 23 000 hardlopers wat hulle vir vanjaar se Comrades-wedloop geregistreer het, moet nie eens in Pietermaritzburg gaan aantree as hulle nou antibiotika neem of pas só ’n kursus voltooi het nie.
Dít was die waarskuwing gister van dr. Jeremy Boulter, mediese hoofbeampte van die wêreld se grootste ultrawedloop.
“En bowenal, moet nié medisyne neem terwyl jy hardloop nie. Veral nie pille wat jy by ’n vreemdeling langs die pad kry nie. Jy weet nie waar daai goed was nie,” het Boulter gesê.
Mense wat besluit om ondanks siekte soos selfs ’n gewone verkoue tóg deel te neem of wat medisyne tydens die wedloop neem het oor die jare die ergste mediese gevalle opgelewer.
Oor die jare het etlike deelnemers al gesterf nadat hulle op die pad of by die eindpunt weens onderliggende siektetoestande inmekaargesak het, het hy gesê.
“As jy siek begin voel, hou eerder op hardloop. Verduur maar eerder die ander deelnemers se gespot waar jy in die bail-bussie sit as wat jy daardie aand in ’n hoësorgeenheid om jou lewe lê en veg.”
Hy verwag dat sowat 400 deelnemers Sondag ná die wedloop in die mediese tent behandel sal word.
Dít sluit die vele ander deelnemers uit wat by die St. John-tent by die eindpunt sal neersak om seer spiere te laat masseer, vloeistof in te neem of net te lê en rus.
Deelnemers wat langs die pad inmekaar sak of ernstig siek word, sal regstreeks na ’n hospitaal in Durban of Pietermaritzburg geneem word.
Vir sulke noodgevalle word ’n helikopter spesiaal gereed gehou, tesame met 20 ambulanse, ses motorfietse en 8 motors met spesiaal opgeleide paramedici.
Die mediese tent gaan beman word deur onder andere prof. Efraim Kramer van die Universiteit van die Witwatersrand se departement noodmedisyne, twee van sy spesialiste, ’n chirurg, 80 dokters en 25 verpleërs.
Die mediese tent is ook toegerus met ’n mini-laboratorium om byvoorbeeld natriumvlakke in die bloed te toets wat dui op ontwatering of oorhidrasie.
Volgens Dave Dixon, voorsitter van die Comrades-vereniging, gooi tussen 5% en 8% van die hardlopers in matige weer soos wat vir Sondag voorspel word, langs die pad die handdoek in.
Maar omdat dit vanjaar die 85ste Comrades-wedloop is en spesiale medaljes gemunt is om dít en die Wêreldbeker-toernooi te vier, verwag hy dat meer hardlopers dalk eerder sal wil vasbyt en klaarmaak.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24