Blitsige Cavendish doen dit wéér in Tour
2011-07-18 08:48
Pretoria – Mark Cavendish se kans om fietsry-geskiedenis te maak, het Sondag aansienlik verbeter toe hy die 15de skof van vanjaar se Tour de France gewen het.
Dit is dié jaer van die Isle of Man se vierde skofsege tot dusver in vanjaar se ren en sy 19de in die Tour.
Cavendish (HTC-Highroad) het sy voorsprong in die punte-afdeling (groen trui) ook aansienlik vergroot.
Hy het 319 punte. Jose Joaquim Rojas (Movistar) is tweede met 282 en Philippe Gilbert (Omega Pharma-Lotto) derde met 248.
Naelryers se kanse om skofte te wen, raak nou min.
Wanneer die Tour Dinsdag, ná ’n rusdag hervat, word daar meesal in die Alpe getrap.
Dinsdag is dalk die laaste keer, tot Sondag, dat ’n naelryer kan wen. Van Woensdag tot Saterdag sal alles vir die naelryers om oorlewing gaan.
Kry Cavendish dít reg, kan hy die eerste Britse jaer word wat die groen trui wen.
Cavendish se wentyd vir die skof van Limoux na Montpellier (192.5 km) was 4 uur 20 minute en 24 sekondes. Tyler Farrar (Garmin-Cervelo) was tweede en Alessandro Petacchi (Lampré) derde.
Die laaste 10 km het op ’n oorlog in die kleine tussen al die spanne met naelryers afgestuur.
Cavendish se spanmaats het koelkop gebly en oor die laaste 10 km die perfekte “trein” opgestel om hom te beskerm.
Geen wonder Cavendish was agterna in ’n televisieonderhoud vir die soveelste keer vol lof vir sy spanmaats nie.
“Dit is ’n groot pluimpie dat my spanmaats keer op keer sonder om vrae te vra hul lywe op die spel plaas om te verseker ek wen. Dit bewys net hoeveel hulle my vertrou.
“Ek weet nie of die ander spanne hul naelryers heeltemal só vertrou nie.”
Cavendish se sege kon nie op ’n beter tydstip gekom het nie. Een van die groot vrae is of die span se borge by fietsry betrokke gaan bly. ’n Aankondiging sal na verwagting vandag gedoen word.
Thomas Voeckler (Europcar) is steeds die algehele voorloper.
Lance Armstrong, sewemalige Tour-wenner, voorspel dat dié Fransman die Tour kan wen.
Bernard Hinault was in 1985 die laaste Franse jaer wat dít reggekry het. Kenners wys egter daarop dat die klimme in die Alpe baie strawwer as dié in die Pireneë-gebergtes is en dat Voeckler regtig met ’n grootse poging vorendag sal moet kom om enduit die geeltrui te dra.
Jelle Vanendert (Omega Pharma-Lotto) het Saterdag se strawwe 14de skof van Saint Gaudens na Plateau de Beille oor 168.5 km gewen.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24