Birkett-hulle kan legende nadoen
2012-02-18 08:30
Durban – Die verwagte groot stryd in die tweede skof van die Unlimited Dusi-kanowedvaart het toe net ’n vulletjie gebaar.
Andrew Birkett en Jason Graham, die verdedigende K2-kampioene, was doodeenvoudig té sterk en het van meet af aan vir die ander twee gunsteling-spanne – Hank McGregor en Len Jenkins en Michael Mbanjwa en Eric Zondi – weggeroei in die skof van die Dusi-brug na die Inanda-dam.
Birkett en Graham is op die punt om Dusi-geskiedenis te maak.
Die legendariese Dusi-koning, Graeme Pope-Ellis, en Tim Cornish was die laaste span wat die K2-wedvaart twee keer agtereenvolgens kon wen.
Hulle het dit in 1988 en 1990 reggekry.
Birkett-hulle het die tweede skof oor 48 km (die langste) in 2 uur, 50 minute en 49 sekondes gewen.
McGregor-hulle het in 2:53:27 klaargemaak.
Dit beteken dat Birkett en Graham vandag se derde skof (Inanda-dam tot by Blue Lagoon) met ’n voorsprong van 4 minute sal begin.
Lance Kime en Kwanda Mhlophe het verras deur derde (in 2:54:31) te eindig. Hulle is ook nou algeheel derde, ’n skamele 3 sekondes voor Mbanjwa en Zondi.
Soos op die eerste dag het die noodlot sy mes vir Mbanjwa-hulle ingehad. Tot by die Gauging-keerwal was hulle net agter McGregor-hulle.
McGregor het die rivier reg gelees en het die kano links oor die keerwal gestuur terwyl Mbanjwa besluit het om in die middel oor te roei.
Die volgende oomblik het die boot omgeslaan en het hulle onder die water verdwyn. Hulle moes eers ’n hele paar minute stoei om terug in hul kano te kom.
Martin Dreyer, ’n sewemalige kampioen en dié twee se afrigter, verduidelik: “Michael is gewoond daaraan om agter te sit, nou moet hy die boot stuur. Natuurlik gaan hy foute maak. Dit is jammer, want hulle is beslis een van die sterkste spanne.”
Birkett het dit duidelik gemaak dat die wedvaart nog lank nie gewen is nie.
“’n Voorsprong van 4 minute in die Dusi is niks. Ons moet net één fout maak en ’n slag swem en die speelveld is weer gelyk.”
Die berugte Burma Road bly altyd ’n besprekingspunt. Volgens Birkett sal hy en Graham beslis oordraf.
McGregror het gesê hy en Jenkins het beslis nog nie bes gegee nie. “As die rivier se watervlakke dit toelaat, sal ek en Len dit oorweeg om óm Burma Road te roei.
“Ons kan só ’n bietjie tyd opmaak. Die drawwery sal ook Andrew-hulle se energie tap, wat in ons guns kan tel.”
Abbey Ulansky en Robin Kime was die vrouewenners en is nou meer as 11 minute voor die Adie-tweeling, Abbie en Alex.
– Sport24
– Volg Sport24 op Twitter