Beserings ry atletiekspan
2010-09-29 10:07
Pretoria - Die beseringspook loop groot draaie in die Suid-Afrikaanse atletiekkamp aan die vooraand van die Statebondspele in Nieu-Delhi, Indië.
Die hoofdokter van die SA span, Shuaib Manjra, het Dinsdagaand bevestig dat Caster Semenya weens ’n rugbesering nie sal deelneem nie.
Sy het gister in Johannesburg ’n skandering ondergaan.
“Dit sal geen doel dien om ’n atleet in Delhi te hê wat met ’n besering sukkel nie,” het Manjra aan Sapa gese.
Hy het bygevoeg dat nog geen finale besluit oor Khotso Mokoena en Mbualeni Mulaudzi se deelnmame geneem is nie.
“Ons wag nog op die uitslag van ’n skandering wat Dinsdag op Mulaudzi gedoen is en ons moet Khotso se gereedheid beoordeel,” het Manjra gesê.
Vroeër het Hansie Coetzee, Mokoena se naelloop-afrigter, bevestig dat Mokoena steeds las van ’n dyspierbesering het.
Hy het die besering glo op die Afrika-byeenkoms in Nairobi opgedoen omdat die sand in die sandput veel te wense oorgelaat het.
“Khotso kon die laaste paar weke nie behoorlik oefen nie. Hy het amper nooit gespring nie en dit sal onwys wees om hom nou te laat deelneem en moontlik sy besering te vererger,” het Coetzee gesê.
Die Fin Jukka Harkonen gaan ook nie meer as Mokoena se agent en afrigter optree nie.
Coetzee is nie seker wie Mokoena nou gaan afrig nie.
In plaaslike atletiekkringe word daar al lank gegis dat dit juis Harkonen se afrigtingsmetodes is wat daartoe gelei het dat Mokoena feitlik die hele jaar met beserings sukkel.
Tumelo Thagane, die Suid-Afrikaanse driesprong-kampioen, gaan ook nie aan die Spele deelneem nie. Hy het die hele jaar al las van ’n enkelbesering.
Hy het dié besering ook op die Afrika-byeenkoms vererger en volgens Thagane kon hy die laaste paar weke glad nie spring nie.
“Elke keer wanneer ek vastrap om te spring, kry ek baie seer,” het Thagane gesê.
)?Intussen het die afrigter Hezekiel Sepeng gesê hy verwag dat Mulaudzi ook aan die Spele onttrek sal word.
“ ‘Buli’ wil Suid-Afrika baie graag op die Spele verteenwoordig, maar deur sy atletiekloopbaan is daar een goue reël waarby hy nog altyd gehou het. Hy sal nie deelneem nie tensy hy 100% reg is.”
Mulaudzi is beseer toe hy vroeër vanjaar in ’n oefening teen ’n ander atleet vasgehardloop het.
Hy het geval en sy dyspier beseer.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24