Bande laat ryers les opsê
2011-10-21 07:36
Mosselbaai – Op ’n dag waar al die ander spanne stories oor terugslae te vertelle gehad het, was dit Kevin Evans en David George (Nedbank 360Life) wat rede gehad het om ’n slag weer breed te glimlag.
Dié twee het die skof van Albertinia na Mosselbaai (98 km) in 3 uur 57 minute en 53 sekondes gewen en sodoende hul algehele voorsprong in die DCM Cape Pioneer Trek-bergfietstoer met 3 minute vergroot.
Ben-Melt Swanepoel en Nico Bell was tweede in 4:00:11, gevolg deur Neil MacDonald en Waylon Woolcock (RE:CM) en Jacques Janse van Rensburg en Adrien Niyonshuti (MTN-Qhubeka).Max Knox (Ghost) en Christoph Sauser (Songo.info), Switserse marathon-wêreldkampioen, was die groot verloorders.
Hul probleme het begin toe ’n rots een van Sauser se bande oopgesny het.
In hul haas om weer die voorlopers in te haal, het hulle deur ’n doringbos gejaag.
Dit was ’n groot fout.
Vyf kilometer verder was al vier die bande van hul fietse pap.
Hulle het nie genoeg binnebande by hulle gehad om dit reg te maak nie. Hulle moes toe elke 5 km stop om bande te pomp.
Dit het daartoe gelei dat hulle amper 90 minute ná Evans-hulle klaargemaak het.
Volgens George was dit hoogtyd dat hul geluk draai. Ironies genoeg het ’n lekband indirek daartoe gelei dat hulle ’n voorsprong kon opbou.
MacDonald- en Swanepoel-hulle het verby gejaag terwyl George en Evans besig was om die nodige herstelwerk te doen.
Hulle het een van die roete-merkers nie raakgesien nie en op ’n verkeerde roete beland. MacDonald was moedeloos.
“Ek het voor gejaag en gedink ons doen ’n slag alles volgens die boek. Ongelukkig het ek een van die draaie te vinnig binnegejaag.
My fiets het begin gly. In my stryd om regop te bly, het ek nie die volgende roetemerker raakgesien nie.”
Swanepoel-hulle het blindelings agter hulle op die verkeerde roete aangejaag.
Erik en Ariane Kleinhans (Contego, Giant, Sludge) was wéér die eerste gemengde span oor die eindstreep en Ischen Stopforth en Catherine Williamson die eerste vroue-span.
Vrydag se skof is van hier na George (127 km).
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24