Baanfietsry-kollig op Hoffman
2011-04-26 08:44
Kaapstad - Die Suid-Afrikaanse Baanfietsry-byeenkoms wat Woensdag hier in die Bellville-velodrome begin, het al die bestanddele om een van die bestes in jare te wees.
Die aksie begin elke oggend om 09:00 en duur tot Sondag.
Dit is die derde agtereenvolgende jaar wat die Suid-Afrikaane byeenkoms hier plaasvind.
Een van die hoogtepunte is beslis die terugkeer van Nolan Hoffman.
Dié Bolander het sy skorsing weens die gebruik van ’n verbode middel uitgedien en sy terugkeer tot die sport sal fyn dopgehou word.
Hoffman was voor sy skorsing die land se belowendste baan-jaer.
Die Suid-Afrikaanse byeenkoms is Hoffman se eerste sedert sy skorsing.
Die Tasol GT-span, waarvoor Hoffman jaag, gaan waarskynlik een van die vernaamste spanne op die byeenkoms wees.
Die veelmalige Suid-Afrikaanse kampioene Dean Edwards en Jean Spies is ook deel van die span, terwyl die Paarliet Clint Hendricks baie talent het.
Ander jaers om dop te hou, is die Kaapse jongelinge Evan Carstens (Intellibus), Reniell Matthysen (Paarl) en Stefan Ihlenfeldt (Cape Town Market).
Die Suid-Afrikaanse padkampioen, Darren Lill, sou aanvanklik deelgeneem het, maar gaan van Vrydag af aan die joBerg2c deelneem, waar hy saam met Brandon Stewart gaan probeer om dié meerdaagse bergfietstoer te wen.
Onder die vroue is Maroesjka Matthee (Intellibus) en Lynette Burger twee van die grootste name wat in aksie gaan wees.
Matthee het haar die laaste paar jaar as die land se voorste baan-jaer gevestig.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24