BMX-medalje ontwyk O’Keeffe
2010-08-20 08:01
Pretoria – Só amper, maar tog nie. Dít is hoe Teagan O’Keeffe se vertoning in die BMX-renne op die Olimpiese Jeugspele in Singapoer die beste beskryf kan word.
O’Keeffe het in die eindronde vierde geëindig. Mayara Perez van Brasilië was die wenner, met Kirsten Deller van Australië tweede en Nederland se Maartje Hereijgers derde.
Die tydsverskil tussen die eerste vier jaers was ’n skrale 1.2 sekondes.
O’Keeffe was skitterend op dreef. Sy het al haar drie renne in die kwarteindronde gewen. In die halfeindronde was sy eers tweede, toe derde en in die laaste ren het sy Perez geklop.
Die wrede werklikheid van BMX-renne is dat jy nie kan foute maak as jy ’n medalje wil wen nie.
Greg Till, voorsitter van Fietsry Suid-Afrika, is nie seker wat in die eindronde vir O’Keeffe verkeerd geloop het nie.
“Sy kon dalk in een van die draaie effens beheer oor haar fiets verloor het, wat sou beteken dat sy ’n paar honderdstes van ’n sekondes verloor het. Dit is fataal.”
Lunga Mkhize het tot die kwarteindronde van die BMX-renne vir mans deurgedring.
Luke Robberts was ook ongelukkig in die eindronde van die bergfiets-veldren.
Sy fiets se ratte het gebreek, wat beteken het dat hy kosbare minute verloor het om dit te herstel. Hy was op die ou einde sewentiende. Jhonnatan Botero van Colombia het gewen.
In die driekamp-spankompetisie het Wian Sulwald en sy spanmaats van die Wêreld-span negende geëindig. Sulwald was algeheel een van die vinnigste atlete.
Murray McDougall het sewende in die eindronde van die 50-vlinderslag geëindig. Sy swemtyd was 25.22s.
Andrii Govorov van Oekraïne het in 23.64s gewen.
Pierre Keune het tot die eindronde van die 100-vryslag deurgedring toe hy gister in sy uitdun derde in ’n tyd van 52.94s geëindig het.
)Dié atlete het tot die eindronde deurgedring: Siphelo Ngquhaza (2de in 200m – 22.75s); Thato Makhafola (6de in 1 000m – 2:52.92) en Schalk Burger (4de in 400-hekkies – 53.22s).
Frans Schutte se laaste stoot in die gewigstoot-uitdunne het nie getel nie, wat beteken dat hy steeds Sondag se eindronde met die vierde beste afstand aanpak.
Suid-Afrika se vroue-hokkiespan het gister teen Korea sy eerste doel aangeteken, maar met 1-3 verloor.
In sy eerste wedstryd het Argentinië die Suid-Afrikaners met 7-0 afgeransel en daarna het Nederland Suid-Afrika met 13-0 gestoomrol.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24