Aus Ope: Serena byna katswink
2013-01-17 12:31
Melbourne – Serena Williams het van 'n enkelbesering herstel om na die derde ronde van die Australiese Ope in Melbourne deur te dring, maar het met 'n seer lip van die baan gestap nadat sy haarself in die gesig geslaan het.
Die vyftienmalige Grand Slam-wenner en derde gekeurde het haar enkel Dinsdag beseer, maar het Donderdag sonder enige ongemak Spanje se Garbine Muguruza 6-2, 6-0, geklop.
"Ek het niks vandag gevoel nie," het Williams gesê, nadat sy ys en pynstillers ontvang het om die ongemak van die seer enkel te verminder.
"Natuurlik as jy uitgaan om te speel, vloei die adrenalien. Gewoonlik voel ek die beserings eers na die tyd, maar ek het baie goed gevoel, beter as wat ek verwag het."
Williams het egter in die kragmeting met Muguruza weer teëspoed opgetel toe sy 'n lughou (lob) wou slaan en haarself met die raket in die gesig geslaan het.
Die voorval het haar met 'n bebloede mond gelaat.
Die Amerikaner se volgende opponent in Melbourne is Ayumi Morita van Japan.
Vir die jongste sportnuus volg
Nuus24Sport op Twitter.
- Sapa - AFP