Aus Ope: Federer, Nadal stoomroller voort
2012-01-20 11:15
Melbourne – Roger Federer het Vrydag die meeste van min kanse gemaak teen die vinnigste afslaan in tennis toe hy Ivo Karlovic met 7-6 (6), 7-5, 6-3 geklop het om die vierde ronde van die Australiese Ope te haal.
Die viermalige Australiese Ope-kampioen en Rafael Nadal is vir die eerste keer sedert 2005 in dieselfde uitspeelgroep geloot en kan mekaar dalk in die halfeindronde pak.
Nadal het Lukas Lacko van Slowakye Vrydag met 6-2, 6-4, 6-2 geklop sonder om enige tekens te wys van die kniebesering wat hom pla.
Die Spanjaard het verlede naweek in sy hotelkamer gesit toe hy 'n kraakgeluid en skerp pyn in sy regter knie ervaar het en was bekommerd dat hy dalk nie in sy openingswedstryd gaan kan speel nie.
Toetse het egter geen ernstige skade gewys nie en sy knie is swaar verbind.
"Die knie is oukei. Dit is die belangrikste," het Nadal gesê. "Ek is tevrede met my spel sover."
In die vroue-afdeling het Caroline Wozniacki haar opponent, Monica Niculescu, met 6-2, 6-2 geklop.
Wozniacki moet ten minste die kwarteindronde van die Australiese Ope haal vir 'n kans om haar nr. 1-posisie op die rangleer te behou.
Die derde gekeurde Victoria Azarenka het Mona Barthel met 6-2, 6-4 geklop. Azarenka is een van drie vroue wat Wozniacki in Melbourne op die rangleer kan verbysteek.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- AP