Atletiekbaas sal nie bedank nie
2011-08-16 08:17
Pretoria – James Evans gaan nie as voorsitter van Atletiek Suid-Afrika (ASA) bedank nie.
Volgens hom het sy foon die afgelope naweek onophoudelik bly lui.
“Atletiekondersteuners van reg oor die land het my gebel en gevra om nie oorhaastig ’n besluit te neem nie, omdat die sport nie nóg ’n krisis sal oorleef nie.
“Ter wille van atletiek sal ek dus my termyn uitdien.”
Evans is drie weke gelede tot voorsitter van ASA verkies.
Al het hy 25 uit ’n moontlike 54 stemme op hom verenig, is sekere van die ASA-raadslede blykbaar ontevrede met die uitslag en het hulle glo besluit om dinge vir hom so moeilik moontlik te maak.
Aleck Skhosana en Harold Adams het die tweede meeste stemme in die verkiesing ontvang – sewe elk.
“Wanneer ASA se raad weer in September vergader, sal ons eerlik en opreg met mekaar moet praat oor of ons atletiek wil dien en of ons met verskuilde agendas eie belange wil bevorder,” het Evans gesê.
“Die atlete gaan die grootste verloorders wees as dinge nie binnekort verbeter nie.
“Daar is net een oplossing: Óf ons kom ooreen om ter wille van atletiek saam te werk óf die raad moet weer ontbind word.”
Ingevolge die Maatskappyewet is dit een van die moontlike oplossings. Dan moet die verkiesingsproses maar weer van vooraf begin, het Evans gesê.
“Iets wat ek regtig nie kan verstaan nie, is die feit dat ons as Suid-Afrikaners oor die vermoë beskik om uit te blink in enigiets wat ons aanpak, maar dit gebeur selde, want ons is omtrent altyd besig om onderling met mekaar te baklei.
“Ek twyfel nie vir ’n oomblik nie dat as almal van ons wat by atletiek betrokke is regtig ’n slag wil saamwerk, sal Suid-Afrika weer ’n krag in internasionale atletiek kan word. Atletiek gaan tog oor die atlete.”
Evans het daarop gewys dat Saskok ASA reeds vroeër gewaarsku het om op te hou om politiek in die raadsaal te beoefen.
Saskok het Muurbal Suid-Afrika en die Suid-Afrikaanse Ruitersportvereniging juis vroeër vandeesmaand weens hul aanhoudende interne struwelinge geskors.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Die Burger