Atlete wil nie teen Semenya hardloop
2010-05-20 14:09
Kaapstad - Die Times of London het berig dat van die wêreld se voorste vroue-atlete dit oorweeg, om byeenkomste waar Caster Semenya wil deelneem, te boikot.
Die Suid-Afrikaner het sedert sy die 800 m wêreldtitel vir vroue in Berlyn verlede jaar in Augustus gewen het, nog nie weer aan 'n byeenkoms deelgeneem nie.
Semenya het onlangs aangedui dat sy op 24 Junie in Zaragoza, Spanje wil terugkeer na die atletiekbaan.
Jenny Meadows van Brittanje wat brons in Berlyn gewen het, is een van die min atlete wat Semenya ondersteun.
“As ek by die wegspringplek staan en sy staan langs my en neem ook deel, sal ek net laat waai,” het Meadows gesê.
Tog het heelwat vroue-atlete laat blyk dat hulle nie sal hardloop as Semenya deelneem nie.
Meadows het ook gesê, "jy moet die IAAF vertrou om die regte besluit namens die atleet te maak, ek voel ek het die regte medalje in Berlyn gekry".
"Ek kry haar bitter jammer en kan nie glo dat hierdie aangeleentheid al vir nege maande net voortsleep nie."
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24