Atlete gebruik al meer verbode middels
2011-09-20 14:34
Johannesburg – Die hoeveelheid atlete wat verbode middels neem het in ‘n jaar met 178% vermeerder, het die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport gesê.
Volgens die sportliggaam se jaarlikse verslag het 2.3% van die 2 308 getoetste atlete tussen April en Maart vanjaar positief getoets vir die gebruik van middels om prestasie kunsmatig te bevorder.
Dit is ‘n verhoging van 178% teen verlede jaar, toe 0.8% van die 2 284 getoetste atlete positief getoets het.
Khalid Galant, die hoof van die instituut, het gesê anaboliese steroïde word die algemeenste misbruik.
Sowat 42% van die atlete wat positief getoets het, het dié middel gebruik.
“Ons neem nou inisiatief om atlete oor die gevare van verbode middels te waarsku,” het Galant gesê. “Gebrekkige wetenskap ondersteun dikwels die sogenaamde voordele wat die middels inhou.”
Galant het gesê die instituut sal voortaan fokus op die regulering van aanvullings vir atlete.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA