Atleet verkoop advertensieruimte op arm
2012-01-09 14:05
New York – Die Olimpiese atleet Nick Symmonds beplan om in 2012 atletiekgeskiedenis te maak – maar nie op die gewone manier nie.
Symmonds, tans die VSA se 800 m-kampioen, beplan om advertensieruimte op sy arm te verkoop vir die 2012-seisoen.
Dié advertensieruimte sal aan die maatskappy wat die hoogste aanbod maak, toegeken word. Symmonds sal die Twitter-gebruikersnaam van die wen-maatskappy op sy arm aanbring.
Die tegnologiewebwerf Wired.com berig dat Symmonds beplan om dié advertensiegeld te gebruik om sy Olimpiese deelname te borg, en hy wil glo ook die aandag vestig op reëls wat atlete verbied om borgskappe tydens die Olimpiese Spele te hê.
Die advertensie sal in die vorm van 'n tydelike tatoeëermerk wees, wat volgens Symmonds “baie duidelik en maklik leesbaar" sal wees.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Lees hier meer.