Arnaud geskors ná uitlatings oor Caster
2011-11-26 08:27
Pretoria – Die voormalige nasionale atletiekkaptein Arnaud Malherbe is vir 33 maande uit alle atletiek geskors.
Dit kom nadat die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) hom skuldig bevind het op ’n klag dat hy Caster Semenya, ’n voormalige wêreldkampioen in die 800 m, in 2009 in die verleentheid gestel het deur van haar persoonlike inligting op sy blog bekend te maak.
Hy het voor 2009 se wêreld-atletiekbyeenkoms in Berlyn op sy blog geskryf dat Semenya ’n hermafrodiet is.
Malherbe (39) het Semenya al voor sy tugverhoor om verskoning gevra.
“Dit was dom van my om só iets op ’n blog te skryf. Ek het nie gedink nie. Op daardie oomblik het ek net geskryf wat in my kop opgekom het. Dit was nie reg teenoor Caster nie,” het Malherbe gister erken.
Verskeie rolspelers in plaaslike atletiekgeledere was geskok om te hoor dat Malherbe, die gesamentlike Suid-Afrikaanse rekordhouer in die 400m, só lank geskors is.
’n Afrigter wat verkies om anoniem te bly omdat hy bang is dat Saskok teen hom sal optree as hy amptelik kommentaar lewer, het daarop gewys dat Malherbe se skorsing langer is as dié van ’n atleet wat hom aan dwelmmisbruik skuldig maak.
“’n Atleet wat uit sy pad gaan om dwelms te gebruik en op dié wyse ander atlete verneuk, word net vir twee jaar geskors,” het die afrigter gesê.
“Arnaud word byna drie jaar lank geskors. Hoe werk dit? Ek wil hê Saskok moet verduidelik hoe Suid-Afrikaanse atletiek daarby gaan baat vind. Arnaud is ’n natuurlike leier en het ’n ware passie vir atletiek.”
Malherbe was van meet af aan bereid om skuld te beken, maar Saskok wou dit nie aanvaar nie.
Ná ’n uitgerekte tugverhoor van agt maande, wat meer as R150 000 gekos het, is hy toe wel skuldig bevind.
Die ander twee klagte teen hom is laat vaar.
Volgens Malherbe het Saskok hom nooit amptelik ingelig dat hy skuldig bevind is nie. Hy het vandeesweek, nadat Atletiek Suid-Afrika (ASA) twee nuwe raadslede gekies het, terloops gehoor hy is skuldig bevind en sy pos in ASA se raad is gevul.
Gideon Sam, voorsitter van Saskok, wou hom nie oor Malherbe se vonnis uitlaat nie.
Hy is wel omgekrap omdat Malherbe se tugverhoor en dié van mnr. Molatelo Malehopo so lank duur.
Volgens hom is dit ’n reuse-verleentheid vir Saskok.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Volksblad