Armstrong vrees peloton
2010-01-20 13:25
Adelaide, Australië - Vir ’n sewemalige Tour de France-kampioen wat gewoond is om altyd voor te ry, het Lance Armstrong erken dat die peloton vreesaanjaend is.
Armstrong, wat op 38-jarige ouderdom na 'n agtste Tour de France-titel mik, was stewig in die peloton vasgedruk tydens die eerste twee skofte van die Tour Down Under-fietstoer in Adelaide, Australië.
“Glo dit of nie maar dit voel heelwat veiliger daar voor,” het Armstrong na afloop van dié fietstoer se tweede skof gesê.
“Alhoewel die pas voor vinniger is, is dit absoluut vreesaanjaend om 30 of 40 plekke terug in die groep te wees.”
‘n Hele paar fietsryers het net ná die wegspring van die eerste skof geval toe ‘n opeenhoping veroorsaak is, terwyl ongeveer 10 fietsjaers naby die einde van die tweede skof ook geval het.
Armstrong het gesê hy is besig om gewoond te raak aan die taktiese aspekte van die peloton, soos “die trein”, waar spanne reg agtermekaar jaag om hulle vinnigste spanmaat in posisie te kry vir die laaste paar meter voor die eindstreep.
“Ek is ‘n bietjie soos ‘n vis op droë grond. Die TGV (Frankryk se treindiens) by die Tour de France is die laaste trein waarop ek gery het," het hy geskerts.
“Ons (Die RadioShack-span) is nie daaraan gewoond om ‘n trein te doen nie en het dit ook nog nooit geoefen nie so dit is glad nie ons sterkpunt nie, maar ons vorder goed.”
- Sapa-AFP