Armstrong veg vergeefs
2010-07-21 08:17
Pretoria - Pierrick Fedrigo (Bbox Bouygues Telecom) het Dinsdag seker gemaak dat Frankryk sy mees suksesvolle Tour in 14 jaar beleef, toe hy die 16de skof van die Tour de France gewen het.
Dit is die eerste keer sedert 1997 dat die Franse jaers weer ses skofte wen. Fedrigo begin ’n gewoonte daarvan maak om skofte te wen. Hy het verlede jaar en in 2006 ook skofte gewen.
’n Groep van nege jaers het ná die laaste buite-kategorie-klim, die Col d’Aubisque, alleen voorgejaag.
Sowat 44km van die einde het die Spaanse jaer Carlos Barredo Llamazales (Quick Step) besluit dit is alles of niks, ’n aanval geloods en daarin geslaag om op sy eie voor te jaag.
Hy is eers in die laaste kilometer ingehaal.
Fedrigo het presies op die regte oomblik versnel om Sandy Casar (FDJ) in die naelrit na die eindstreep te klop. Sy wentyd vir die skof van Bagnéres de Luchon na Pau (199.5km) was 5 uur 31 minute en 43 sekondes. Ruben Plaza Molina (Caisse d’Epargne) was derde.
Lance Armstrong (RadioSchack), sewemalige Tour-wenner, het ’n laaste moedige poging aangewend om ’n skof te wen omdat hy sy Tour-loopbaan op ’n hoogtepunt wou afsluit.
Die wrede werklikheid is dat die 38-jarige Armstrong doodeenvoudig net nie meer sterk en vinnig genoeg is om die wêreld se beste jaers te klop nie. Hy het sesde in die skof geëindig. Dié Tour is beslis net een te veel vir die fietsrylegende.
Die verwagte groot tweestryd tussen Alberto Contador (Astana) en Andy Schleck (Saxo Bank) in wat as een van die strafste skofte beskou is, het nie gerealiseer nie. Dié twee jaers het basies skouer aan skouer al vier die groot klimme uitgetrap.
Daar word voorspel dat Schleck in môre se skof wat teen die gevreesde Col du Tourmalet (’n 18.6km klim met ’n 7.5%-gradiënt) eindig, sy alles gaan gee om Contador te “vernietig”.
Hy het geen keuse nie. Schleck moet minstens twee minute voor die tweemalige Tour-kampioen oor die eindstreep jaag om enigsins ’n kans te staan om te wen. Ná gister het Contador steeds ’n voorsprong van agt sekondes gehad.
Vandag is ’n rusdag.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24