Armstrong bieg glo oor opkikkers
2013-01-15 07:28
Austin – Die omstrede fietsryer Lance Armstrong het volgens USA Today in sy onderhoud met Oprah Winfrey erken dat hy opkikkers gebruik het gedurende sy loopbaan.
Die publikasie het berig dat Armstrong dié bekentenis gemaak het tydens die verfilming van 'n onderhoud met die kletskoningin by sy huis in Austin, Texas. Die onderhoud sal later in die week op die Oprah Winfrey Network uitgesaai word.
Armstrong het die laaste paar jaar ten sterkste ontken dat hy verbode middels gebruik het. 'n Bekentenis kan ook wetlike en finansiële implikasies inhou. Veral groot korporatiewe borge, soos die maatskappy Nike, kan in daardie geval teen hom regsaksie neem.
Dit was Armstrong se eerste onderhoud sedert sy sewe Tour de France-titels verlede jaar by hom afgeneem is.
Die Internasionale Fietsryvereniging (ICU) het Armstrong se naam laat verlede jaar effektief uit die geskiedenis van fietsry gewis toe die vereniging besluit het om nie appèl aan te teken teen 'n verdoemende verslag deur die Amerikaanse agentskap teen verbode middels (Usada) nie.
Die verslag het vertel hoe Armstrong gereeld opkikkers gebruik het.
Winfrey self het nie enige verdere besonderhede oor die onderhoud gegee nie, maar het wel op Twitter gesê die gesprek het meer as twee en 'n half uur geneem.
"Hy het GEREED gekom!" het sy geskryf.
Suid-Afrikaanse kykers sal die onderhoud op Vrydag, 18 Januarie op DStv se kanaal 172 en TopTV se kanaal 453 kan volg.
Die onderhoud sal ook regstreeks op Winfrey se webtuiste, oprah.com, gewys word.
Kykers kan Vrydagoggend om 04:00 na die onderhoud kyk op die webtuiste.
DStv sal die onderhoud Vrydagaand om 19:30 op kanaal 172 uitsaai.
Dit is egter nog nie bekend om watter tyd die onderhoud op TopTV te siene sal wees nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.